Gallery
NIEU-BETHESDA NUUS — Charl du Toit (64) is 'n man met vele gesigte.
Sondae staan hy gewoonlik, onberispelik geklee in sy swart pak by die preekstoel van Nieu-Bethesda se Verenigde Gereformeerde Kerk, jare gelede bekend as die sending kerk van NGK, om geestelike brood te verskaf aan sy ewe uitgevatte gemeentelede.
Deur die week is hy dikwels te kry in die ou meule op die rustige dorpie met sy bekende Uilhuis, waar hy met 'n voorskoot, wit van die meel wat hy self maal, brood bak vir 'n paar kliente sover as Graaff-Reinet.
As hy by die huis kom, is die gelegitimeerde NGK-predikant saam met sy vrou, Belinda, 47, gasheer vir toeriste wat in sy en Belinda se vierkamer gastehuis, The Stoep Cottage, oornag.
Maar dis nie al gesigte van hierdie innemende mens nie. Charl kom nie net uit 'n kerk-familie nie - sy pa, Fanie du Toit, nou al 92-jaar-oud, was predikant op Wonderboom.
En die hande wat soms deur die week wit van die meel is en wat op Sondae nagmaalbrood en wyn aan sy gemeentelede bedien, is ook dié van 'n vioolspeler.
"Ek is seker my musikale aanleg kom van my pa, wat ook viool speel, en my ma, Alice, 90, wat ook nog leef, en die orrel gespeel het. Hulle twee het selfs saam 'n lewendig radio opname gemaak."
Sy twee kinders uit 'n vorige huwelik het dieselfde kunstenaarsgenes. Sy dogter, Beatrix, het klarinet in die Kaapstadse simfonie orkes gespeel en is tans besig met haar meestersgraad in musiek op Stellenbosch. Stephan, sy seun, is opgelei in verhoogontwikkeling.
Charl is nie net 'n vioolspeler nie. Hy gee ook klas daarin en is 'n gekwalifiseerde vioolmaker en -hersteller en vervaardig ook strykstokke in 'n werkswinkel agter in sy tuin.
Hy het in 1981 by die teologiese Kweekskool op Stellenbosch as predikant graad gevang en het as predikant in Wellington se VGK in Wagenmakersvallei gewerk. "Dit was veelbewoë en stormagtige jare in die tyd van die Belhar belydenis."
Weerstand teen die kerk se leierskap, veral van charismatiese groepe, het veroorsaak dat Charl in 2000 "met groot pyn uit die gemeente is." Hy sê die pynlikste vir hom was die verlies van sy gemeentelede wat meesal plaaswerkers was. "Ons het oor 18 jaar 'n wonderlike verhouding opgebou."
Na hy uit die bediening is het hy nog 'n rukkie in Wellington aangebly. "Ronnie Samaai, n baie bekende in musiekkringe, het my toe genader om in Khayalitsha vioollesse te gee as deel van 'n projek vir minder-bevoorregte kinders wat hy begin het." Samaai is op die raad van die Kaapstadse simfonie orkes en 'n bekende musiek opvoedkundige en violis.
Charl se liefde vir die viool het skielik 'n verdere hupstoot gekry. "Met ' n bietjie finansiele ondersteuning, het die projek my die wonderlike geleentheid gebied het om in Oostenryk vir drie maande by 'n vioolhersteller in Linz, Frans Ubelhor, te kon werk.
"Dit was n uitsonderlike geleentheid. Ek het ook vir 'n maand in Wenen by Thomas Gerbeth gewerk en hy het my strykstokke leer maak. Die geleentheid is geskep deur die Suid-Afrikaanse tenoor Robert Brooks, wat baie gedoen het vir musiek en ontwikkelings projekte in Suid-Afrika. Die Uber Ostenreich Landesregering was een van die borge."
Die tydelike breuk met die kerk was nie die enigste verlies in sy lewe nie. Vyf jaar later, terug van Oostenryk, is hy en sy eerste vrou geskei... nie lank na die dood van hul jongste dogtertjie nie.
Hy sê die breuk van sy huwelik het hom omtrent vernietig. "Dit was 'n keerpunt in my lewe en ek het nie geweet hoe om aan te gaan nie. Toe lees ek Psalm 30 weer… 'Jy sal met trane gaan slaap maar met vreugde opstaan."
"My lewe het totaal verander." 'n Vriend het hom aan Belinda voorgestel en hulle is getroud. "Belinda het Nieu-Bethesda geken en na die jongste van ons twee kinders gebore is, het ons besluit om sak en pak hierheen te trek."
In 2014 het die VGK hom as mede-leraar in die Graaff-Reinet-gemeente gebruik en ook as konsulent van Nieu-Bethesda se gemeente.
"Ek is 'n tentmaker. (Die naam wat sedert Paulus se tyd aan leraars gegee is wat uit ander bronne ook op finansiële steun moes staatmaak.) Ek verdien volgens my kontrak met Graaff-Reinet se gemeente maandeliks R2 300 plus reiskoste indien ek 'n vergadering in Graaff-Reinet sou bywoon of daar sou preek."
Sy kollega, wat 19 jaar in die bediening is word volgens die Sinode se skaal vir predikante betaal. Beide ontvang 'n konsulentsfooi en reiskoste van die gemeentees in die ring wat hulle besoek. Op die oomblik is daar 12 vakante gemeentes.
Dat hy nie op sy inkomste as predikant kan staatmaak om te lewe nie, is duidelik. "Ons het tot verlede jaar 'n woonstelletjie met twee kamers buite ons huis verhuur. Toe het ek besluit om ons huis in 'n gastehuis te omskep.
"Vir 15 maande het ek gewerk om in elke kamer met 'n badkamer in te bou en die huis gereed te kry. Ek het behalwe vir bietjie hulp in die begin al die werk self gedoen."
'n Week voor ek die Du Toit's ontmoet het, was die werk voltooi. "Die week was die eerste gaste in die huis. Ons het nou na die woonstelletjie toe getrek."
Tussen alles deur gee hy vioollesse. "Ek het Maandae ses leerlinge. Ek kry R360 per kwartaal en verhuur ook twee viole uit teen R60 per maand.
"Vrydae gee ek les vir drie meisies van die Rupert Trust se nasorgsentrum en twee kinders van die Vuyani kinderhuis in Graaff-Reinet.
"Januarie verlede jaar is ek genader om dié lesse te gee. Daar was geen vergoeding ter sprake nie maar ek het nou gehoor daar is pogings om fondse van die Vuyani projekte te kry as vergoeding vir verlede jaar se lesse en die verhuring van die viole. Ek voorsien vyf viole aan die kinders. Ons het verlede jaar opgetree by die Vuyani kinderhuis se algemene jaarvergadering ."
Charl sê daar is 'n klompie vioolherstellers in die land en hy weet van drie mense wat strykstokke maak. "Strykstokke word gemaak van Pernambucco, 'n baie raar en duur Suid-Amerikaanse hout. Omdat die hout so besonders is, en eintlik relatief min van die hout werklik geskik is vir 'n strykstok, het ek begin om sommige stokke met koolstofvesel te versterk. Dit is egter nog 'n lang pad om mense te oortuig dat so 'n stok meriete het.
"Vir die hare van 'n strykstok word perdesterthare gebruik. Die hare moet van die koue lande soos Rusland China en Kanada kom omdat plaaslike hare te vinnig groei en dus baie dik is. 'n Bondeltjie hare vir een strykstok kan al tot R200 kos."
Die meule in Nieu-Bethesda behoort aan die NG Kerk. "Ek het die kerkraad aangebied om die meule aan die werk te kry en huur dit by die kerk teen'n bedraggie." Die restourasie proses het met tussenposes omtrent drie maande geduur.
"My eerste koring was 'n geskenk van 'n plaaslike boer. Ek kry nou koring uit die Suidkaap. Ek bak vir paar mense in Nieu-Bethesda brood en weekliks vir drie mense in Graaff-Reinet. Ek beplan om 'n produksielyn aan die gang te kry met mense wat my help.
"Ek maal tans elke twee weke koring. Die brood wat ek bak, bak ek met die grof gemaalde meel sonder enige moderne meel."
Hy sê die meule is nie 'n nasionale gedenkwaardigheid maar behoort te wees. "Mense kom gereeld in om te kyk hoe ek koring maal."
'n Man van vele gesigte... en vele hande!
'Ons bring jou die nuutste Nieu-Bethesda, Karoo nuus'