OOS-KAAP NUUS - Duisende leerders in die Oos-Kaap sal vandag, Dinsdag 14 Oktober, op die eerste dag van die derde kwartaal, nie skool bywoon nie omdat hul regeringsgesubsidieerde vervoer nie beskikbaar sal wees nie.
Hierdie krisis is die gevolg van 'n staking deur taksibestuurders wat ontevrede is oor laat betaling vir hul dienste.
In 'n dringende mediaverklaring wat Sondagaand, 12 Oktober aan Graaff-Reinet Advertiser deurgegee is, het die skaduminister van opvoeding in die Oos-Kaap, Horatio Hendricks, gewaarsku dat hierdie krisis ophande is.
Onderbegroot
Hendricks het gesê hierdie situasie is vererger deur 'n onlangse hofbevel dat die ongeveer 60 000 leerders wat tot dusver nie skoolvervoer gehad het nie, dringend in die huidige skolevervoerstelsel ingeskakel moet word.
Volgens hom plaas die hofbevel en die staking die LUR van Vervoer, Xolile Nqatha, onder geweldige druk.
“Wat Nqatha se probleem vererger, is die feit dat die departement grof onderbegroot het vir die 103 000 leerders wat goedgekeur is," sê Hendricks.
"Die stelsel word gekenmerk deur laat betalings aan diensverskaffers wat nie vir die eerste drie maande van die akademiese jaar betaal is nie, met baie leerders regoor die provinsie wat toegang tot onderrig geweier word omdat hulle langs die pad gestrand is.
Die jongste voorval van diensverskaffers wat staak weens ongereelde betaling gebeur jaarliks.
Die departement is bewus gemaak van die feit dat die begroting rondom Oktober elke jaar kan opraak, maar die onvoldoende begroting is steeds aanvaar.”
Hendricks sê hy vrees dat hierdie selftoegediende druk op die skoolvervoerbegroting selfs groter druk sal skep namate die rasionalisering van skole onverpoosd voortduur.
"Geen staking wat leerders sonder toegang tot onderwys laat, kan goedgekeur word nie," het Hendricks in gesprek met die Advertiser gesê.
Begrotingsaanpassing nodig
"Ek stel voor dat 'n dringende begrotingsaanpassing gemaak word om die onderbefondsing te dek, sodat dienste wat gelewer word, betaal kan word, en die onderrig van leerders geprioritiseer kan word.
Baie plaasskole en leerders in landelike skole word nie as goedgekeurde leerders in die stelsel ingesluit nie.
Hulle is eenvoudig nie meer 'n prioriteit van die departement van vervoer nie, aangesien daar net nie genoeg geld is nie.
Dit was reeds om hierdie rede dat die saak verlede jaar in Desember in die hof was en teen die einde van November 2025 sal die departement reeds 'n jaar gesloer het om die saak op te los."
Die woordvoerder van die departement van vervoer in die Oos-Kaap, Unathi Binqose, het gister gesê dat die departement en die provinsiale regering onverpoosd werk om te verseker dat die skolierevervoer al vandag beskikbaar sal wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’