KAROO NUUS - Motoriste wat die N2 in die omgewing van Gamtoos-heuwel gebruik, word aangemoedig om die R102 as ’n alternatiewe roete te gebruik na ’n ongeluk waarby drie vragmotors en 'n ligte motorvoertuig betrokke was.
Die ongeluk, waarin een persoon dood en twee ander beseer is, het omstreeks 04:30 plaasgevind.
Volgens die nuutste inligting tot Graaff-Reinet Advertiser se beskikking is die N2 steeds gesluit terwyl reddings-, herwinnings- en ondersoekwerk afgehandel word.
Volgens die Oos-Kaapse Departement van vervoer was twee geldvervoervoertuie en ’n Hyundai H-1 met sewe sitplekke in die ongeluk betrokke. Voorlopige verslae dui daarop dat die Hyundai aan die verkeerde kant van die pad gery het toe dit met een van die gepantserde voertuie gebots het.
In ’n skynbare poging om die botsing te vermy, het die tweede geldvervoervoertuig van die pad en teen ’n wal af beweeg.
Die bestuurder van die Hyundai is op die toneel dood verklaar, terwyl twee sekuriteitsbeamptes beseer en vir mediese behandeling na die hospitaal vervoer is.
Die saak word deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens ondersoek en die verskafte inligting moet nog amptelik bevestig word. Besonderhede rondom die slagoffers moet ook nog amptelik bevestig word.
Motoriste word aangemoedig om te alle tye waaksaam te wees en verkeersreëls na te kom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’