OOS-KAAP NUUS - Agri Oos-Kaap het onlangs verskeie klagtes ontvang in verband met die provinsie se verswakkende padnetwerk, spesifiek met betrekking tot die grondpadroetes.
In reaksie hierop het Heinrich Müller, Oos-Kaapse parlementslid en die DA se Oos-Kaapse woordvoerder oor landbou, op 20 Julie aan Graaff-Reinett Advertiser gesê dat die krisis waarmee die provinsie se landelike paaie te kampe het, nie die gevolg is van onvoldoende kommunikasie nie.
Boere, besighede, gemeenskappe en padgebruikers meld reeds jare lank ineenstortende paaie, gevaarlike slaggate, beskadigde brûe en agterstande in onderhoud aan.
Die probleem, het Müller gesê, is dat hierdie waarskuwings nie opgevolg is met voldoende onderhoud, realistiese begrotings, effektiewe projekbestuur of tydige ingryping nie.
Onlangse oorstromings het ongetwyfeld verdere skade veroorsaak, maar dit het ook die gevolge van jare se uitgestelde onderhoud blootgelê.
Paaie wat reeds besig was om te verswak, is besonder kwesbaar gelaat, wat gemeenskappe van noodsaaklike dienste afgesny en landbouproduksie ontwrig het.
Hy het daarop gewys dat boere in verskeie distrikte wat van grondpadroetes afhanklik is, reeds duisende rande bestee het om op eie koste die paaie te herstel, aangesien daar nie insette van munisipaliteite is nie.
Waar roetes wel herstel is, is daar selde, indien ooit, enige bystand van die Departement van Vervoer ontvang, ondanks die feit dat talle skoolbusse dié roetes gebruik.
Betroubare paaie is fundamenteel vir die landelike ekonomie.
Boere benodig funksionele vervoerroetes om personeel, vee, landbou-insette en produkte te vervoer.
Wanneer hierdie paaie faal, strek die gevolge veel verder as individuele plase, het Müller gesê.
Werkgeleenthede, voedselsekerheid, nooddienste, skoolvervoer en plaaslike besighede word almal geraak.
Kwartaallikse vergaderings en verbeterde kommunikasie sal min waarde hê tensy dit tot meetbare optrede lei.
Vrae aan landbou- en vervoerportefeuljes
Müller het navrae oor onder meer die begrotings wat vir herstelwerk en roetine-instandhouding beskikbaar is, duidelike implementeringstydlyne, asook ’n verduideliking van hoe vloedbeskadigde paaie beoordeel en herstel sal word, aan die departmente van vervoer en landbou, asook die premier se kantoor gestuur.
Hy het ook gevra vir ’n meganisme waardeur vordering deurlopend deur die publiek gemonitor kan word.
“Die provinsiale regering moet ook verduidelik watter alternatiewe padbou- en instandhoudingstegnologieë oorweeg word, waar dit geïmplementeer sal word, en hoe hul doeltreffendheid en waarde vir geld gemeet sal word,” het Müller beklemtoon.
“Die provinsiale regering sal steeds aanspreeklik gehou word om te verseker dat regeringsbesprekings tasbare resultate oplewer wat veiliger paaie en verbeterings vir die landbousektor en landelike gemeenskappe tot gevolg het.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’