NIEU-BETHESDA NUUS - Hierdie week het Nieu-Bethesda die voorreg gehad om die inspirerende Anties Bring Hoop-span op hul 2026-reis deur Suid-Afrika te verwelkom.
Alhoewel die projek oorspronklik geskep is om boervroue in landelike gemeenskappe te ondersteun, het ’n groep plaaslike vroue in Nieu-Bethesda op 8 Julie saam met die anties bymekaargekom om aan ’n kreatiewe werkswinkel deel te neem.
Altesaam 21 vroue het in ’n vrolike atmosfeer saam geskilder, stories gedeel en mekaar aangemoedig.
Die pragtige kunswerke wat geskep is, was slegs ’n deel van wat die dag so spesiaal gemaak het. Die Anties Bring Hoop, wat deur die kunstenaar Mariette Beukes gestig is, gebruik kuns as ’n manier om gemeenskappe te bou, hoop te herstel en betekenisvolle bande tussen vroue te smee.
Die span reis na dorpe regoor die land en bied gratis werkswinkels aan wat elke deelnemer nie net met ’n voltooide kunswerk huis toe stuur nie, maar ook met die wete dat hulle nie alleen is nie.
“Mariette se plakboek het my verstom,” vertel Carla Illingworth van The Bethesda-gastehuis, wat ook die geleentheid bygewoon het.
“Hierdie plakboek is van vroue uit die Bybel, maar sonder gesigte. Sy het ons almal vertel dat wanneer ons iemand ontmoet, onthou en ‘sien’ ons nie die werklike gesig of vrou nie, maar wanneer ons moeite doen om hulle beter te leer ken, kry hulle ’n gesig. By die werkswinkel het ons elkeen die geleentheid gehad om vroue sonder gesigte te verf met kunstegnieke wat vir ons almal ’n nuwe ervaring was. Ons het ook decoupage met papierservette, verf en borsels op ’n houtbord gemaak, en elke vrou s’n het verskil, soos ons elkeen verskil.
”Wat hierdie inisiatief selfs meer merkwaardig maak, is dat die span byna die hele reis self finansier. Hul enigste borgskap vanjaar was van Tjhoko Paint, terwyl die oorblywende reis- en verblyfkoste uit hul eie sakke betaal word. Om hierdie ongelooflike inisiatief te ondersteun en te help met brandstofkoste, besoek hulle BackaBuddy-veldtog by https://www.backabuddy.co.za/campaign/n-oproep-tot-hoop-vrou-tot-boervroue.
Die vroue van Nieu-Bethesda gaan vir lank nie uitgepraat raak oor die verskil wat Die Anties Bring Hoop in hulle eie lewens teweeggebring het nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’