MURRAYSBURG NUUS - Die besonderse gees wat onder Karoomense heers, het onlangs in Murraysburg na vore getree toe inwoners saamgewerk het om ’n lid van die gemeenskap te help.
Toe die sybokboer en -skeerder Dirk van der Merwe in Desember 2025 dorp toe moes trek, was die dipgat waarin hy sy eie bokke gedip het, nie meer tot sy beskikking nie.
“Vir maande moes ons getroue helper, Gurrie Brouers, elke bok een vir een in ’n klein ‘float bin’ dip en fisies optel,” vertel Dirk se vrou, Chrisna. “Hierdie swaar en tydrowende werk, was die enigste manier.”
Murraysburg-boere en skeerdienskliënte het egter gewys wat omgee werklik beteken. Philippie Retief en Fanie van der Merwe het die behoefte raakgesien en sonder huiwering die inisiatief geneem om vir Dirk ’n nuwe dipgat te laat bou.
Fondse is met behulp van ’n Back-a-Buddy-veldtog ingesamel terwyl Phillippie die beplanning en mates van die dipgat behartig het.
Die reaksie uit die gemeenskap was oorweldigend. Boere, vriende en ondersteuners het met oop harte gereageer.
“Mense het ruimhartig donasies gemaak, finansieel bygedra, materiaal beskikbaar gestel en hul tyd en arbeid gegee,” sê Chrisna. “Elkeen het bygedra volgens sy vermoë, nie omdat hulle moes nie, maar omdat hulle wóú help. Dit was ’n daad van onselfsugtige omgee wat ons as gesin diep geraak het.”
Kort voor lank kon Louis Steynberg van Steynberg Industries die diptenk begin bou, en dit is op 2 Julie voltooi.
“Vandag staan dit nie net as ’n praktiese fasiliteit nie, maar as ’n simbool van die goedheid, medemenslikheid en eensgesindheid van die Murraysburg-boeregemeenskap.”
Die Van der Merwes bedank elkeen wat bygedra het om hierdie projek moontlik te maak en sonder Retief en Van der Merwe uit vir hul visie en leiding, asook Steynberg vir vakmanskap.
In ’n tyd waar negatiewe nuus dikwels die oorhand kry, herinner hierdie verhaal dat daar steeds gemeenskappe is waar mense mekaar se laste help dra.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’