JANSENVILLE NUUS - Huis Welverdiend in Jansenville is baie opgewonde oor sy nuwe boorgat, wat op Donderdag 2 Julie ’n werklikheid geword het danksy ’n reusebydrae deur Summit Wildlife en ander groot rolspelers.
Die tehuis sorg daagliks vir 53 bejaarde inwoners.
Behoefte
Die behoefte vir ’n boorgat het vier maande gelede sterk na vore gekom.
“Dit is daagliks ’n uitdaging om hoë standaarde van algemene en persoonlike higiëne te handhaaf in enige tehuis. Daar moet voorsiening gemaak word vir die was van klere en beddegoed, en voldoende watertoevoer na ons badkamers en kombuise moet voortdurend gehandhaaf word,” sê Leoné Mulder, die tehuis se bestuurder.
“Jansenville sit dikwels dae lank sonder water, wat die instelling in ’n onhoudbare posisie plaas. Wanneer onvermydelike droogtes in die Karoo toeslaan, is daar daagliks ’n gespartel om alles met die minimum water gedoen te kry. Die wasgoed hoop binne dae hemelhoog op wanneer daar nie genoeg water is om dit te was nie.”
Sy sê daar is watertenks op die terrein, maar die 15 000 liter daarin is slegs genoeg vir een dag.
Boorgatprojek
In Maart het Huis Welverdiend ’n projek van stapel gestuur met die doel om R60 000 in te samel.
Sedertdien is R10 000 uit verkope van produkte uit die huis se eie werkswinkel ingesamel, en R10 300 is met ’n lootjiesprojek in Steytlerville geïn. Die groot deurbraak het egter gekom toe Summit Wildlife einde Junie ’n skenking van R10 000 gemaak het, wat aan die tehuis genoeg fondse voorsien het om die gat te laat sink.
Welverdiend is ook baie dankbaar teenoor ander groot bydraers wat die projek ’n werklikheid gemaak het, naamlik die hidroloog, Ruan van Jaarsveld van GlobiWell, wat die water gratis aangewys het, en Rocco Erasmus van Graaff-Reinet Drilling wat ’n baie billike tarief gevra het.
“Woorde skiet ver tekort om dankbaarheid aan Summit Wildlife te betuig vir hul ruim bydrae tot die boorgatprojek. Die bestuursraad, bestuurder, personeel en inwoners is oneindig dankbaar. Dit is ’n besonderse voorreg om so iets te ontvang sonder om daarom te vra,” sê Mulder.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’