OOS-KAAP NUUS - Ses mense het hul lewens verloor en agt het ernstige beserings opgedoen in afsonderlike ongelukke op verskeie Oos-Kaapse roetes op Vrydag 10 Julie.
Unathi Binqose, mediawoordvoerder van die Oos-Kaapse departement van vervoer, het hierdie sterftes te midde van die druk vakansieverkeer op die Oos-Kaapse paaie toegeskryf aan roekelose en nalatige bestuur.
Die eerste ongeluk, waarin twee passasiers, ’n volwassene en ’n kind van vyf jaar, gesterf het, het op die N2 by Idutywa naby Nywarha plaasgevind. Na berig word, het die bestuurder van ’n VW Caddy beheer verloor en die voertuig het verskeie kere gerol. Die bestuurder en vyf passasiers het ernstige beserings opgedoen en is inderhaas na die Butterworth-hospitaal geneem. Die voertuig, wat slegs sewe passasiers mag akkommodeer, was met agt insittendes onderweg van Mthatha na Idutywa toe die ongeluk plaasgevind het.
In die tweede ongeluk is die bestuurder van ’n Nissan sedan op die N10 by Nxuba dood nadat hy vermoedelik beheer oor die voertuig verloor het en dit omgeslaan het. Daar word beweer dat ’n mediese toestand moontlik ’n bydraende faktor tot hierdie noodlottige ongeluk was.
Die derde ongeluk, wat 8 km van Middelburg uit die rigting van Nxuba op die N10 plaasgevind het, het die lewens van drie mense geëis. Beskikbare inligting dui aan dat ’n Isuzu-dubbelkajuitbakkie en ’n gelede FAW-vragmotor, wat albei in dieselfde rigting onderweg was, in ’n botsing betrokke was.
Die bestuurder van die bakkie, asook twee van die vyf insittendes, is dood. Die ander twee insittendes van die Isuzu het ongedeerd daarvan afgekom en is op die toneel deur nooddienste bygestaan.
Die departement doen ’n ernstige beroep op padgebruikers met ernstige mediese toestande om nie te bestuur nie.
Die LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid, Xolile Nqatha, moedig motoriste aan om altyd die verkeersreëls na te kom. Nqatha het sy innige meegevoel met die families van die slagoffers uitgespreek en wens die beseerdes ’n spoedige herstel toe.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’