OOS-KAAP NUUS - Die inwoners van Olifantstraat in Hillside het hul ontevredenheid uitgespreek oor wat hulle beskryf as ’n ernstige gesondheids- en veiligheidsrisiko by ’n onwettige stortingsterrein op Erf 67.
Ná jare se frustrasie het hulle nou formeel opgetree deur ’n regseis teen die Inxuba Yethemba Plaaslike Owerheid in te dien.
Volgens Kobus Botha, die woordvoerder namens die inwoners, is ’n formele kennisgewing op 5 Junie aan die munisipale bestuurder, Mkhululi Whitey Mbebe, oorhandig.
’n Afskrif is ook aan ook aan Ncumisa Mongo, die wykraadslid van wyk 6 voorsien.
Botha sê die terrein dien reeds sowat vier jaar lank as ’n onwettige stortingsterrein, en dat die situasie tot kritieke vlakke ontwikkel het.
“Dit is ’n groot gevaar vir die gesondheid en veiligheid van die gemeenskap, veral omdat dit langs ’n straat geleë is waar kinders daagliks speel en baie inwoners verbybeweeg,” het hy gesê.
Benewens die ophoping van afvalmateriaal is die inwoners ook bekommerd oor die toenemende voorkoms van plae. Volgens Botha vermeerder muise en rotte vinnig op die terrein, wat weer slange en rondloperkatte na die omgewing lok.
“Die bron van die probleem word nie aangespreek nie, terwyl die inwoners met die gevolge daarvan moet saamleef,” het hy gesê.
Die vervalle HOP-huis op die erf wek verdere kommer. Die inwoners beweer dat die gebou gereeld vir dwelmgebruik, openbare urinering en as skuilplek deur misdadigers gebruik word.
Daar word ook beweer dat daar gedurende koue wintersaande vure in die struktuur gemaak word, wat die risiko van brandstigting verhoog.
Volgens die inwoners word hul grondwetlike reg op ’n veilige en gesonde omgewing geskend. Hulle verwys na Artikel 24 van die Grondwet en die Nasionale Omgewingsbestuurswet: Afvalwet van 2008, wat bepaal dat elke Suid-Afrikaner die reg op ’n omgewing het wat nie skadelik vir hul gesondheid of welstand is nie.
Die gemeenskap versoek die munisipaliteit om die terrein dringend op te ruim. Hulle meen ook dat die eienaars van die vervalle woning verantwoordelik gehou moet word om die eiendom op te ruim en behoorlik te beveilig.
Daarbenewens vra die inwoners vir verbeterde vullisverwyderingsdienste, voldoende vullisdromme en ’n betroubare skedule vir afvalverwydering wat aan die publiek beskikbaar gestel word.
In die kennisgewing word die munisipaliteit 21 dae gegun om die terrein skoon te maak en skriftelik op die klagtes te reageer.
Indien daar geen optrede volg nie, sê die inwoners sal die saak na die Oos-Kaapse departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme verwys word vir verdere ondersoek en moontlike optrede.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’