OOS-KAAP NUUS - Die burgerregteorganisasie AfriForum het op Maandag 20 Julie in ’n persverklaring aangedui dat hy gereed is vir ’n hofstryd oor die naamsverandering van Graaff-Reinet na Robert Sobukwe-dorp.
Volgens AfriForum is die hofaansoek reeds in Mei vanjaar geliasseer, maar die Departement van Sport, Kuns en Kultuur se regspan het eers onlangs aangedui dat die aansoek teengestaan gaan word.
Die naamsverandering is deur die minister goedgekeur en op 6 Februarie in die Staatskoerant gepubliseer, waarna die publiek ingevolge die Wet op die Suid-Afrikaanse Geografiese Nameraad 30 dae gehad het om besware daarteen aan te teken.
Op grond hiervan het AfriForum op 16 Februarie ’n prokureursbrief aan die minister gestuur waarin beswaar teen die naamsverandering gemaak is.
Volgens AfriForum het dié brief onbeantwoord gebly en is ’n hofaansoek daarom in Mei by die Hooggeregshof in Pretoria geliasseer.
Aanvanklik is geen kennisgewing ontvang dat die aansoek geopponeer sou word nie, maar nadat die saak op die ongeopponeerde rol geplaas is, het die Departement van Sport, Kuns en Kultuur se regspan aangedui dat die minister en die Suid-Afrikaanse Geografiese Nameraad van voorneme is om die aansoek te opponeer.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, berus die organisasie se beswaar onder meer daarop dat die Oos-Kaapse provinsiale beleid wat pleknaamveranderinge reguleer, dit duidelik stel dat die herbenoeming van plekke met besondere historiese betekenis slegs in uitsonderlike gevalle oorweeg moet word.
AfriForum is van mening dat geen sodanige omstandighede in die geval van Graaff-Reinet bestaan nie, aangesien die dorp dié naam reeds 240 jaar dra.
Volgens die organisasie dui die naamsverandering ook daarop dat onvoldoende oorweging aan die bewaring van die dorp se historiese en kulturele erfenis geskenk is.
Verder toon ’n omvattende studie volgens AfriForum aan dat die meerderheid van die dorp se inwoners teen die naamsverandering gekant is.
AfriForum voer verder aan dat die proses van naamsverandering ongrondwetlik is en dat die departement se eie proses om die betrokke wetgewing te hersien, dit skynbaar bevestig.
“Naamsveranderinge het ’n maklike manier geword vir politici om die wanindruk te skep dat hulle daadwerklik optree, terwyl hulle eintlik die plekke waarvan die name verander word, asook die land se kultuurgeskiedenis, minag en belastinggeld vermors wat tot voordeel van inwoners aangewend kon word,” sê Bailey.
“Ons kan dit nie langer toelaat nie, veral nie wanneer ’n pleknaam met die historiese gewig van Graaff-Reinet ter sprake is nie.”
Johann Harmse, voorsitter van AfriForum se Graaff-Reinet-tak, sê inwoners is besorg oor die “onberekenbare skade” wat die naamsverandering aan die kultuurhistoriese waarde van die naam, die toerismebedryf, die plaaslike ekonomie en die verhoudings tussen gemeenskappe kan aanrig.
“Die inwoners het reeds aangedui hoe sterk hulle teen enige verandering gekant is en ons stemme verdien om gehoor te word,” sê hy.
AfriForum se regspan wag nou dat die respondente hul hofstukke liasseer, waarna ’n hofdatum bepaal sal word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’