FLAGSTAFF - Die polisie ondersoek dood van ’n gesin ná die ontdekking van vyf van hul liggame by ’n woning in die Mfundisweni-admingebied, Magqagqeni, op die oggend van 10 Julie.
Luidens ’n polisieverklaring het ’n gemeenskapslid, ’n vriend van die gesin, en ’n familielid die woning besoek en op die liggame afgekom.
Die vriend het die polisie omstreeks 08:52 gebel en van die toneel in kennis gestel.
Die vyf familielede, ’n man, sy vrou en hul drie kinders, se liggame het almal noodlottige skietbeserings getoon.
’n Pistool is op die toneel langs die man se liggaam gevind.
Daar word vermoed dat dit ’n geval van gesinsmoord gevolg deur selfdood is, maar die motief is nog nie bevestig nie.
Die ondersoek duur voort.
Die uitslae van die nadoodse ondersoeke en forensiese inligting word afgewag om die oorsaak van dood te bevestig.
Brigadier Nobuntu Gantana, streekswoordvoerder van die Oos-Kaapse Polisie, het namens die polisie medelye aan die naasbestaandes getuig en ’n beroep gedoen op enigiemand met inligting om die Flagstaff-polisie by 039 252 0108/0158 of Crime Stop by 08600 10111 te kontak.
Sy sê alle inligting sal met die grootste vertroulikheid hanteer word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’