NXUBA NUUS - Wanneer jy op ’n Sondagoggend deur Michausdal ry, gaan jy ’n blaasorkes hoor.
Nie binne ’n gebou nie; hierdie groep stap deur die strate met hul trompet, tromboon, tromme en bastrom, en kort voor lank kom almal uit hul huise en stap saam op die maat van die musiek.
Een van die stigters van die orkes, Zolile Faniso, vertel dat hy en sy vriend Cherwin Butler die blaasorkes verlede jaar begin het en dat hulle by begrafnisse en troues optree.
“Ons het die Inxuba Yethemba Evolution-blaasorkes begin om aan kinders die wonder van musiek oor te dra,” sê Faniso tydens ’n onderhoud met Graaff-Reinet Advertiser.
“Ons het ’n passie vir musiek, en dit maak die groot verskil. Die motivering agter hierdie orkes is om ons kinders daar buite nader te trek.
Eerder as om hulle weg te dryf, het ons planne gemaak om hul belangstelling aan te wakker en waarmee anders as met musiek?”
Hy sê musiek het soveel in sy en Cherwin se lewens bygedra - tot hier waar hulle nou self in leiersposisies staan.
“Samesprekings met munisipale raadslede en kerkraadslede het ons tot die besef laat kom dat ons die jongmense moet intrek en hulle kans moet gee om betrokke te raak by ons orkes.
Dalk kan dit hul lewens herorganiseer of hulle ’n positiewe doel gee, sodat hulle op hulself kan trots wees en ook hul ouers kan trots maak.”
Wanneer mens die orkes dophou, is dit duidelik dat marsjeer-opleiding ook aandag geniet.
Dit dra by tot die eenheid, want niemand wil verkeerd trap nie, en moet by die tyd wat aangegee word, kan byhou.
“Musiek maak in elkeen van hierdie orkeslede se lewens ’n positiewe verskil,” sê hy.
“Ons het nou tot die besef gekom dat daar baie meer kinders is wat graag sal wil inskakel, en nou het daar ’n nood rondom instrumente ontstaan, want ons het net die heel basiese instrumente.
Ek droom daarvan dat die kinders ook sal kan leer klavier speel ... dalk is hier ook ’n orrelis tussen die klomp,” droom Faniso terwyl sy oë blink.
Sy groot droom is ’n musiekskool waar selfs sangers opgelei sal kan word.
Enige persoon wat ou musiekinstrumente beskikbaar het, word genooi om met die groep te skakel by 065 908 4717.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’