OOS-KAAP NUUS -Twee leerders van Hoër Volkskool Graaff-Reinet, Erik Swanepoel en Frederick de Klerk, het by die pas afgelope IMPI Hard-Enduro 2026 uitgeblink.
Van 2 tot 4 Julie het Swanepoel en De Klerk die uitdagende IMPI Hard-Enduro naby Bergville in die Noordelike Drakensberg aangepak - een van Suid-Afrika se grootste en mees veeleisende endurobyeenkomste.
Meer as 1 200 ryers het vanjaar deelgeneem, met deelnemers van regoor die wêreld wat hul vaardighede op die bergagtige terrein getoets het.
Albei ryers het puik gevaar.
Erik het 33ste uit 517 deelnemers in die bronsklas geëindig, terwyl Frederick ’n uitstekende 10de plek uit 337 deelnemers in die ysterklas behaal het.
Die wedren is ’n ware toets van uithouvermoë, tegniese vaardigheid en deursettingsvermoë.
Hierdie uitdaging het van deelnemers vereis om oor ’n tydperk van drie dae tot 300 km af te lê, waartydens hulle daagliks tussen sewe en nege ure oor die ruwe terrein van die Drakensberge gery het.
Vanjaar was die algehele voltooiingskoers slegs 48%, wat bewys hoe uitdagend die kompetisie inderdaad is.
Hard-enduro is ’n ekstreme en uiters veeleisende vorm van veldmotorfietsrenne, waar deelnemers oor uitmergelende natuurlike terrein - soos vertikale rotsvelde, steil hellings en diep modder - moet beweeg.
Dit vereis dikwels dat hulle hul motorfietse moet stoot, trek of selfs dra om die eindpunt te bereik.
Om aan hierdie uitmergelende byeenkomste deel te neem, vereis spesiaal aangepaste motorfietse.
Standaardkenmerke sluit vering met ’n lang veerweg, swaardiensbinnebande of bandinsetsels (soos mousses) om pap bande te voorkom, asook uitgebreide beskerming soos beskermplate, verkoelerbeskermers en robuuste handbeskermers in.
Hoër Volkskool Graaff-Reinet het hul gelukwense aan beide Swanepoel en De Klerk met hul besondere prestasies oorgedra.
Hul harde werk, vasberadenheid en liefde vir die sport was duidelik sigbaar.
Die skool het hulle vele veilige kilometers vorentoe toegewens en glo dat daar, met die twee jong manne se benadering en deursettingsvermoë, nog baie suksesverhale voorlê.
By Hoër Volkskool Graaff-Reinet kry leerders die geleentheid om hul belangstellings uit te leef en hul talente op alle vlakke optimaal te ontwikkel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’