ASHERVILLE NUUS - ’n Roostuin wat regdeur die ysige winters van die Kamdebo vol in blom staan, klink soos wensdenkery, maar daar is so ’n tuin.
Tannie Ida Prins van Asherstraat 1 in Asherville glo dat haar kleurvolle rose, wat regdeur die jaar blom, die lente roep.
“Ek het baie rose.
Ek weet nie watter of hoeveel soorte rose ek het nie, maar hulle blom regdeur die jaar - winter en somer ewe veel.
Die enigste tyd wanneer hulle nie blom nie, is wanneer hulle elke jaar in Augustus gesnoei word.
Dan is daar vir ’n rukkie nie rose nie. Maar wanneer hulle weer lostrek, blom hulle behoorlik!” vertel tannie Ida aan Graaff-Reinet Advertiser.
“Ek glo nie aan duur spuitstowwe vir insekte wat my rose pla nie.
Ek gebruik sommer verdunde skottelgoedseep - regte Sunlight.
Selfs die water waarin jy jou skottelgoed gewas het, kan gebruik word; dit moet net eers goed afkoel.
Engelse sout werk ook!”
“Ek het iewers gehoor dat gekraakte eierdoppe baie kalsium aan die grond verskaf, wat die rose help om sterk stamme te ontwikkel.
Daarom gooi ek gereeld gekraakte eierdoppe om die roosstruike se stamme.
Dan groei hulle sommer menshoogte, en kan ek die rose in die oë kyk! Kyk net hier,” vertel sy en beduie na ’n goudgeel roos waarvan die blomme bo haar kop uitsteek.
“Ek sny ook die dooie blomkoppe af, en dit is eintlik die beste bemesting vir die rose.”
“Ek is nie eintlik ‘n tuin- of blomme-in-die-huis-mens nie, want ons gesin is almal allergies en kry hooikoors.
Daarom sal jy nie sommer potplante of blomme in my huis kry nie, maar in my tuin moet alles blom. Dis so mooi.”
Gemeenskapsleier Laughton Hoffman vertel dat hy graag ’n versorgingskultuur onder die inwoners van Asherville wil kweek.
“Ons wil hê dit moet mooi wees waar ons woon.
Ek nooi almal op my Facebook-groep, Graaff-Reinetters in Action, om foto’s van julle lentetuine in te stuur, sodat ons die mooiste tuine en blomme in Asherville op Facebook kan bewonder.”
Toe Ida Prins van die uitdaging hoor, het sy dadelik ingestem en alle inwoners uitgedaag.
“Wys vir ons julle mooiste blomme hierdie lente.
Die goeie reën van die afgelope tyd het ons tuine laat praal. Kom ons laat ook ons strate blom,” sê sy saam met Hoffman. “Laat die hele wêreld sien hoe mooi ons dorp is.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’