PHILLIPSTOWN NUUS - Twee plaaslik vervaardigde draadkarre, wat in Philipstown gebou is, is na Budapest, Hongarye, uitgevoer waar dit tydens die Formula 1 Grand Prix aan Ferrari-spanlede oorhandig sal word.
Lida McQuade van die Draadkar-niewinsgewende organisasie (NPO) in Philipstown het Graaff-Reinet Advertiser gekontak om die opwindende nuus te deel.
“My dogter, Renate Rautenbach, het die twee renmotors ontwerp en my man, Fred McQuade, het dit gebou nadat Shell ons gekontak het om twee Formula 1-renmotors te vervaardig.
Die twee draadkarre is replikas van Ferrari se 2026 Formula 1-renmotors wat aan die Formula 1 Grand Prix-wêreldkampioenskap gaan deelneem.
Die wedren vind op 26 Julie by die Hungaroring in Mogyoród, net buite Budapest in Hongarye, plaas.
“Ons is baie opgewonde.
Die wêreld het voor ons oopgegaan, want ons twee draadkar-renmotors uit Philipstown sal aan Lewis Hamilton en Charles Leclerc oorhandig word,” vertel McQuade.
Die openbare figuur en beïnvloeder, Nomzamo Mbatha, wat by die reëlings betrokke was, sal die renmotors tydens die geleentheid op 26 Julie oorhandig.
Die span wat hard saamgewerk het om die projek te voltooi, bestaan uit Gert Witbooi, Brendon Lukas en Abraham Louw van die Draadkar-NPO, wat saam met Fred McQuade en Renate Rautenbach die renmotors met uiterste vakmanskap afgewerk het.
“Ons hele span hoop om op 26 Julie voor die televisie vasgenael te sit wanneer die twee renmotors oorhandig word.
Ons harte gaan oorloop van trots. Die hele Philipstown staan soos een man agter hierdie poging,” sê Lida.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’