NXUBA NUUS - Watertekorte in verskeie woonbuurte van Nxuba (Cradock) wek toenemende kommer.
Die gemeenskap is radeloos, aangesien daar deesdae geen waarborg is dat water op enige dag van die week beskikbaar sal wees nie. Selfs plaaslike besighede begin die gevolge van die krisis voel.
Stoney Steenkamp, sakeman en VF Plus-raadslid, het Vrydagmiddag, 17 Julie, gesê dat hy self ondersoek ingestel het nadat geen sinvolle terugvoering van die Chris Hani Distriksmunisipaliteit ontvang is nie.
Sy ondersoek het veral gefokus op die hoërliggende gedeeltes van Cradock, waar inwoners reeds vier dae lank sonder water was.
“Die Chris Hani-distriksmunisipaliteit het weereens nie die kanaal skoongemaak of deurlopende onderhoud daaraan gedoen nie.
Dit veroorsaak dat water by beskadigde gedeeltes van die kanaal verlore gaan, terwyl obstruksies in die kanaal die watervloei aansienlik vertraag.
Hierdie blokkasies en gebreke veroorsaak dat baie minder water per minuut die reservoir bereik as wat die geval sou wees indien die kanaal behoorlik skoongemaak en onderhou is.
As gevolg van die skade kry die reservoir nie naastenby die beoogde hoeveelheid water vanaf die rivier via die kanaal nie,” sê hy.
Kobus Botha, DA-verteenwoordiger in Nxuba, is ook bekommerd oor die waterprobleme en het reeds ’n omvattende plan van aksie opgestel wat aan die Inxuba Yethemba plaaslike munisipaliteit voorgelê is.
Die plan bevat die nodige stappe om die watervoorsieningstelsel in Nxuba optimaal in stand te hou.
Die plan handel onder meer oor die hantering van probleme soos pompbreuke, kragonderbrekings, gebarste of lekkende pyplyne, verswakte watervoorsiening, beskadigde reservoirs en onvoldoende water in reservoirs.
Dit spreek ook die wanfunksionering van die waterbehandelingsaanleg en meganiese en elektriese toerusting aan. ’n Afskrif van die plan is aan die Graaff-Reinet Advertiser oorhandig.
Steenkamp sê verder die masjinerie is in ’n haglike toestand en onvoldoende om die dorp van water te voorsien.
“Dit is duidelik dat die Chris Hani-distriksmunisipaliteit óf nie oor bekwame personeel beskik nie, óf eenvoudig te lui is om hierdie funksie te verrig.
Gemeenskapslede gaan nou ’n aksie van stapel stuur, want die inwoners van Nxuba het ’n punt bereik waar hulle geen vertroue meer in die munisipale raad het nie,” sê hy.
Die plaaslike munisipale bestuurder kon nie telefonies vir kommentaar bereik word nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’