SUID-KAAP NUUS: Agt jaar het George gewag. Agt jaar sedert Outeniquapark laas die verhoog vir 'n Curriebeker-eindstryd was.
Vrydagaand het die wagtyd geëindig. Onder die ligte van 'n ysige wintersaand, maar met 'n hartklop wat deur duisende ondersteuners aangevuur is, het die Dotsure SWD Arende hul plek in die geskiedenis bevestig deur die Valke met 41-21 te klop en die 2026 Carling Curriebeker Eerste Liga-titel voor hul eie mense omhoog te hou.
Dit was meer as net 'n rugbywedstryd. Dit was die beloning vir 'n seisoen waarin die Eagles week ná week gewys het dat hulle die maatstaf in die Eerste Liga is.
Onder leiding van voormalige Springbok-afrigter Heyneke Meyer het SWD vroeg reeds hul aansprake duidelik gemaak met oorwinnings oor die Griffons, Valke, Luiperde en Grens, voordat hulle die kompetisie bo-aan die punteleer afgesluit het. Selfs hul enigste nederlaag van die seisoen teen OP, kon hulle nie van 'n tuis-halfeindstryd en uiteindelik 'n tuis-eindstryd beroof nie.
Die oproep om Outeniquapark vol te maak is beantwoord. Op 'n bitterkoue aand het duisende rugbyliefhebbers hul plekke ingeneem. Families, oudspelers, kinders in groen en wit en ondersteuners van regoor die Tuinroete het saamgestroom om deel te wees van 'n aand wat nog lank onthou sal word.
Die wedstryd self het die toon aangegee. Vir die eerste vyf-en-'n-half minute was daar nie eens 'n spelonderbreking nie. Die bal het gevlieg, die tempo was hoog en albei spanne het gewys waarom hulle die twee beste spanne in die kompetisie was.
SWD het eerste toegeslaan toe Neil Beukes in die agtste minuut oor die doellyn is. Divan du Toit het van die kantlyn af oorgeskop. Kort daarna het die Arende se handelsmerk, hul vernietigende dryfmaal weer sy merk gemaak toe Janus Venter ná opeenvolgende strafskoppe teen die Valke gaan druk het.
Die Valke het deur Hlomla Paya teruggeslaan, maar SWD het onmiddellik gereageer. Ná nog 'n strafskop het die Eagles weer die hoek gekies, en Xavier Swartbooi het mooi afgerond in ‘n beplande beweging om die voorsprong na 19-7 te rek.
Net voor rustyd het Zeilinga Strydom vir die Valke gaan druk, terwyl Janus Venter met 'n geelkaart die veld moes verlaat. Selfs met 14 spelers het die Arende egter nooit beheer verloor nie.
Trouens, hulle het die tweede helfte se eerste punte aangeteken toe heelagter Ulrich Wahl 'n uitstekende drie afgerond het. Du Toit het daarna met 'n strafdoel die voorsprong verder vergroot voordat Rune Lucas in die hoek gaan druk het.
Toe Du Toit self onder die pale gaan druk en sy eie drie verdoel om die telling na 41-14 te neem, het Outeniquapark geweet, die beker bly in George.
Die Valke se laat drie deur Tylor Sefoor kon niks aan die uitslag verander nie. Selfs hul laaste lynstaan ná die eindfluitjie is deur SWD gesteel, 'n simboliese einde aan 'n seisoen waarin die Arende byna alles reg gedoen het.
Kaptein Carel du Preez het ná die wedstryd die mikrofoon gegryp en die gemeenskap bedank. Sy emosionele woorde aan die ondersteuners, vrywilligers en almal wat die span deur die seisoen gedra het, het gewys dat hierdie titel oor veel meer as rugby gaan.
Dit gaan oor trots, dit gaan oor George en dit gaan oor 'n rugbygemeenskap wat weer glo.
Spelers soos Rosco Syster, wat deurentyd verdedigend uitmuntend was, het die span se karakter gewys.
Die afrigtingspan het selfs gewag tot diep in die wedstryd voordat die plaasvervangers ingestuur is, 'n teken van hoeveel vertroue daar in die beginspan was.
Hierdie was nie net 'n kampioenspan nie, dit was 'n span wat 'n streek weer laat droom het.
Vir die kinders wat Vrydagaand op die pawiljoene gesit en hul helde toegejuig het, was dit dalk die begin van hul eie rugbydrome.
Vir SWD-rugby voel hierdie titel nie soos 'n eindpunt nie, dit voel soos die begin van iets baie groter.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’