OOS-KAAP NUUS - Elf mense het op 28 Julie in drie afsonderlike noodlottige ongelukke op Oos-Kaapse paaie gesterf, terwyl verskeie ander beseer is. Koue en nat padtoestande het moontlik tot die ongelukke bygedra.
Die Oos-Kaapse LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid, Xolile Nqatha, het sy diepe hartseer oor die lewensverlies uitgespreek en motoriste opnuut gemaan om versigtig en verantwoordelik te bestuur.
Ongeluk op N2 naby Mooiplaas
Volgens Makhaya Komisa, mediaskakelbeampte van die Oos-Kaapse departement van vervoer, het die eerste ongeluk, waarin ses mense gesterf het, op die N2 naby Mooiplaas, net buite KuGompo City, plaasgevind.
’n Volkswagen Polo en ’n Renault was in ’n botsing reg van voor betrokke. Die Renault het ná die botsing aan die brand geslaan, waarna die bestuurder - vermoedelik ’n onderwyser aan Qumrha Laerskool - so erg verbrand het dat hy nie uitgeken kon word nie.
Vier van die vyf insittendes van die Volkswagen Polo - een man en drie vroue - het ook in die botsing gesterf.
Ongeluk by Lucingweni-nedersetting
Die tweede ongeluk het op die N2 by die Lucingweni-nedersetting in KwaBhaca plaasgevind en die lewe van drie mense geëis.
’n Isuzu-bakkie en ’n geartikuleerde vragmotor was in botsing reg van voor betrokke.
Die drie manlike insittendes van die bakkie is op die toneel dood verklaar, terwyl die vragmotorbestuurder ongedeerd was.
Ongeluk op N2 naby Birch Farm buite Komani
Twee mense is in ’n derde ongeluk op die N2 naby Birch Farm buite Komani, in die rigting van Cathcart, dood.
Die ongeluk het ’n Mercedes-Benz-geartikuleerde vragmotor, ’n MAN-bus en ’n Toyota Fortuner betrek.
Die bus het teen die agterkant van die vragmotor gebots, waarna die Toyota Fortuner teen die regteragterhoek van die bus gebots het.
Die manlike bestuurder en ’n passasier van die Toyota Fortuner is op die toneel dood verklaar.
Tien mense het ernstige beserings opgedoen, 28 ligte beserings en twee kritieke beserings.
Die beseerdes is na Frontier-hospitaal en Komani Privaat Hospitaal vir verdere behandeling geneem.
Nqatha het sy innige meegevoel met die families van die oorledenes betuig en die beseerdes ’n spoedige herstel toegewens.
Hy het motoriste versoek om uiters versigtig te bestuur, aangesien swaar reën groot dele van die provinsie se paaie nat en gevaarlik gemaak het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’