NIEU-BETHESDA NUUS - “Die hele dorp praat altyd van die Ou Crocs wanneer hulle na ons voormalige sokkerspelers verwys.
Ek het toe gedink dit sou ’n slim plan wees om die teendeel te bewys.
Daarom het ek al die sokkerspanne in Nieu-Bethesda gevra om hul uitgetrede spelers, wat steeds beskikbaar is, te benoem vir die wedstryde wat ons vir Saterdag beplan het,” vertel Denley Swartz, besturende direkteur en stigter van Youth Explosion in Nieu-Bethesda.
Saterdag 25 Julie was die sokkerveld in Nieu-Bethesda omring deur belangstellendes wat wou sien hoe Swartz se plan sou ontvou.
“Hierdie was ook ’n geleentheid om die manne wat die sokkerkultuur in Nieu-Bethesda aan die gang gekry het, die kans te gee om vir die jonger spelers te wys dat hulle dit nog steeds kan doen.”
Toeskouers het vertel dat die geleentheid in ’n pretbelaaide sportdag ontaard het en dat die wedstryd tussen Spartans Legends en Wolves Legends nog lank onthou sal word.
“Dit was ’n kompeterende wedstryd waartydens altesaam sewe doele aangeteken is,” vertel Swartz.
Hy sê Jerome Schotz van die Wolves het uitstekend gespeel, terwyl Harold Brander van die Spartans ook sy kant gebring het.
Met ’n knipoog voeg hy by: “Maar die speler van die wedstryd was ongetwyfeld Alfred ‘Skilling’ Martins, ongeag sy ouderdom.
Hy het vir geen uitdaging teruggestaan nie - ’n regte bok vir sport.
Hy het die toekenning ontvang vir die broederskap, vriendskap en sportmangees wat hy regdeur die reëlings en die eindstryd geopenbaar het.”
“Die skare was tot aan die einde vasgenael langs die veld.
Daar is saam gejuig, gelag en feesgevier toe die Spartans met 4 - 3 as wenners uit die stryd getree het.”
Swartz is ook dankbaar vir die trofee wat raadslid Ricardo Smit geskenk het.
“Nou kan ons elke maand ’n Legends-wedstryd aanbied en so die hartklop en die spiere aan die gang hou. As jy rustig wil oud word, sal jy nie in Nieu-Bethesda aard nie!”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’