INXUBA NUUS - Die Inxuba Yethemba Plaaslike (IYLM) se Eskom-skuldkrisis moet dringend opgelos word.
Volgens Heinrich Müller, LUR, DA en Oos-Kaapse kiesafdelingleier, het die LUR vir Samewerkende en Tradisionele Sake (Cogta), Zolile Williams, bevestig dat IYLM se Eskom-skuld huidiglik R752m beloop.
Hierdie syfer het na alle aanduidings in minder as twee jaar met meer as R300m gestyg, as gevolg van voortdurende nie-nakoming van betalingsplanne, herhaalde wanbetaling en die ophoping van rente en boetes.
Druppel in die emmer
Oor die afgelope ses maande het IYLM slegs R2m aan Eskom betaal - 'n bedrag wat nie eens die krisis begin aanspreek nie.
Ten spyte van die ondertekening van 'n samewerkingsooreenkoms met Eskom in Mei, sê Müller, het die munisipaliteit versuim om sy eie verpligtinge na te kom.
Cradock en Middelburg, beide in die Graaff-Reinet Advertiser se bedieningsgebied, val onder die IYLM.
Williams het tydens ondervraging in die Oos-Kaapse Parlement erken dat departementele ingrypings "nie regtig effektief" was nie en dat geen hulpbronne toegeken is om finansiële herstel te ondersteun nie.
Maatreëls
“Voortaan sal druk op die IYLM geplaas word om fondse wat die publiek vir elektrisiteit betaal, af te baken sodat daardie fondse slegs die Eskom-verbruik en Eskom-skuld bedien,” sê Müller, en belowe dat 'n volledige verduideliking geëis sal word oor waarom die munisipaliteit sy verpligtinge ingevolge die samewerkingsooreenkoms met Eskom en die Provinsiale Tesourie versuim het.
Voorts sê hy dat talle inwoners en besighede reeds regstappe geneem het om elektrisiteitsvoorsiening af te dwing, terwyl baie huishoudings steeds onder die konstante bedreiging van kragonderbrekings leef.
In plaas daarvan om oplossings te bied, sê Müller, het Cogta homself beperk tot die oorreding van die munisipaliteit om betalingsplanne te onderhandel wat dit nie kan bekostig nie.
“Roekelose finansiële wanbestuur van munisipale fondse kan nie so voortduur nie.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’