CRADOCK NUUS - Wat eens 'n speelplek vir kinders en 'n deurloop vir leerders vanaf Cradock Hoërskool na hul huise in Cradock-Oos was, het ontaard in 'n onwettige stortingsterrein wat onbeheerd aanwas.
Die Welkom Kafee in DF Malanstraat, 'n spogbuurt in Cradock, is omring deur vier kerke en inwoners het in die verlede die omgewing verfraai met blomtuintjies.
Sedert die kafee egter onlangs deur 'n nuwe eienaar oorgeneem is, het die onderhoud van hierdie verfraaiings agterweë gebly en die deurloop het stortingsterrein vir verbygangers en inwoners geword, sonder inagneming van die gesondheidsprobleme en potensiële gevaar wat dit inhou.
Hierdie toedrag van sake het omliggende inwoners se bloeddruk die hoogte in gestuur.
Danksy die aksie geneem deur Danie Venter, inwoner en takkomiteelid van wyk 5, en 'n aktiewe gemeenskapslid, Kobus Botha, is hierdie oogseer nou verwyder.
"Die gemors lok knaagdiere, wat verskeie siektes dra, en knaagdiere lok ook slange, na 'n publieke terrein waar kinders stap," sê Botha.
"Ek het die eienaar van die kafee by sy besigheid ontmoet en hy het ingestem om die gebou-opknappingsrommel op die voetgangersypaadjie skoon te maak."
Botha sê dat 'n skuldigbevinding vir enige oortreding ingevolge die Geïntegreerde Afvalbestuursverordening 'n boete van tot R10 000 of gevangenisstraf van 6 tot 24 maande tot gevolg kan hê.
Die beskerming van eiendomsregte verhoog die waarde van eiendomme - al moet inwoners dikwels self hul munisipale dienste lewer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’