CRADOCK NUUS - 'n Buitelandse burger wat gekoppel word aan dwelmsmokkelary tussen Gauteng en die Oos-Kaap is Donderdag 16 Oktober in hegtenis geneem na 'n gesamentlike intelligensie-gedrewe operasie.
Woordvoerder van die Valke, adjudant-offisier Ndiphiwa Mhlakuvana, sê die inhegtenisneming het gevolg nadat Misdaadintelligensie in Humansdorp, Cradock K9, Gqeberha Valke en lede van die Nelson Mandelabaai-misdaadbestrydingseenheid 'n dwelmbesending onderskep het.
Hy sê hulle het inligting van Misdaadintelligensie ontvang rakende 'n vragmotor wat na bewering 'n aansienlike hoeveelheid dwelms, bestem vir Gqeberha, vervoer het.
Volgens die Valke is die voertuig in Cradock (Nxuba) onderskep voordat dit sy bestemming bereik het.
Mhlakuvana sê dat dat beamptes tydens ’n noukeurige soektog dagga ontdek in 'n versteekte kompartement binne die gereedskapskis wat aan die sleepwa se bakwerk vasgemaak was.
In Gqeberha vasgetrek
Die gesamentlike span het die vragmotor tot by Gqeberha begelei.
Mhlakuvana sê toe hulle by die Caltex-garage in Motherwell stilgehou het, het 'n wit Volkswagen Polo op die plek aangekom, bestuur deur 'n individu wat geïdentifiseer is as die beoogde ontvanger van die dwelms.
Die polisie het die inhegtenisneming uitgevoer tydens die oorhandiging van die besending aan hierdie individu.
Die 39-jarige man was in besit van sewe sakke dagga wat 65 kg geweeg het, met 'n geraamde straatwaarde van R100 000.
Hy het Vrydag in die Motherwell-landdroshof verskyn, en bly in aanhouding tot hofstukke volledig is vir ’n volgende verskyning.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’