NXUBA NUUS - Drie van Hoër Landbouskool Marlow by Nxuba (Cradock) se topskuts en hul afrigter het gedurende die afgelope skoolvakansie aan die Internasionale Metaalsilhoeët-skietkampioenskappe in Finland deelgeneem, waar hulle deel van die Suid-Afrikaanse Proteaspan was.
Die span het op Saterdag 4 Julie vanaf OR Tambo Internasionale Lughawe via Istanbul na Helsinki vertrek.
Daarna het die groep per voertuig na die vakansieoord Vierumäki gereis, waar hulle vir die duur van die kompetisie tuisgegaan het.
“Die kompetisie is deur die beste spanne ter wêreld bygewoon en die gehalte van deelname was uitsonderlik hoog,” vertel hul afrigter, Benninghof Siebert.
“Die Wolramme het egter nie op hulle laat wag nie. Hulle het hulle baie goed laat geld en die bestes ter wêreld op hul neuse laat kyk.”
Die Marlow-skuts het uitstekende prestasies behaal.
Niel Scheepers (Hilux) het ’n algehele derde plek in die produksie-luggeweerafdeling behaal.
Hy het ook algeheel derde geëindig in die kleinkalibergeweer-silhoeëtskietafdeling en die kleinkalibergeweer-oopvisierafdeling.
Hy het verder tweede plekke in die junior kategorieë vir kleinkalibergeweer-ligte teleskoop en kleinkalibergeweer-aggregaat behaal.
Gary Marx (Sappie) het eerste plekke in die junior kategorieë vir kleinkalibergeweer-ligte teleskoop, kleinkalibergeweer-silhoeëtskiet, produksie-luggeweer en kleinkalibergeweer-aggregaat behaal.
Charlie-Ben van Schalkwyk was tweede in die junior kategorieë vir kleinkalibergeweer-silhoeëtskiet en produksie-luggeweer.
Hy het ook die derde plek in die junior kleinkalibergeweer-aggregaatkategorie behaal.
Die drie skuts het nie net in die junior afdeling puik presteer nie, maar ook in die algehele senior klasse.
Wat hul prestasies besonder merkwaardig maak, is dat die drie Marlow-skuts eerste, tweede en derde in die junior kategorie geëindig het en daarmee as die ware wêreldkampioene van Hoër Landbouskool Marlow by Nxuba gereken kan word.
“Spesiale melding moet gemaak word van Niel Scheepers (Hilux), wat in vier kategorieë algeheel derde plekke losgeskiet het - en dit in die senior klas,” sê Siebert.
Die skuts se harde werk en toewyding het ongetwyfeld vrugte afgewerp.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’