OOS-KAAP NUUS - Enkele weke nadat Graaff-Reinet Advertiser berig het dat daar slegs een helikopter in die Oos-Kaap beskikbaar is om reddingsoperasies uit te voer, is ’n splinternuwe helikopter nou tot die beskikking van die Oos-Kaapse polisie.
Die nuut verworwe SAPS-helikopter, Airbus H125, is in die Airwing in Port Elizabeth gebaseer.
Lugondersteuning
Die helikopter is Vrydagaand, 10 Oktober, by die Airwing in Port Elizabeth afgelewer en het sommer gou sy waarde bewys toe daar tydens sy nooiensvlug op 13 Oktober twee liggame in die Swartkopsrivier in Gqeberha opgemerk is.
Adjudant-offisier Majola Nkohli, mediawoordvoerder van die Oos-Kaapse polisie, sê SAPD-lede is geaktiveer om lugondersteuning te bied tydens 'n soek- en bergingsoperasie wat verlede Vrydag in Swartkops, Port Elizabeth, begin het nadat 'n 17-jarige seun vermoedelik in die rivier verdrink het.
Soektog
Na bewering het ’n groep vriende op Vrydag 10 Oktober, omstreeks 10:00 in die Swartkopsrivier geswem toe Curtis Samson (17) in die moeilikheid beland en in die water verdwyn het.
’n SAPD soek-en-reddingspan van die K9-eenheid is geaktiveer en het regdeur die naweek, met die hulp van ander belanghebbendes, na die vermiste Samson gesoek.
Geskeduleerde stoppe is slegs tydens sonsondergang ingestel.
Twee liggame
Maandag, tydens die helikopter se nooiensvlug waar die bemanning hulself vertroud gemaak het met die nuwe helikopter, is die helikopter in hierdie soektog ingespan.
Die bemanning het binne minute twee liggame in afsonderlike areas van die rivier sien dryf.
Die eerste liggaam is as die vermiste Samson geïdentifiseer. Die tweede liggaam moet nog geïdentifiseer word.
Polisieduikers het onmiddellik tot aksie oorgegaan om die twee liggame uit die rivier te verwyder.
Die polisie het twee afsonderlike geregtelike doodsondersoeke vir verdere ondersoek oopgemaak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’