CRADOCK NUUS - Die dorpie Cradock was vanaf 6 Oktober ’n miernes van bedrywighede, toe deelnemers en ondersteuners aan die 2025 Visrivier-kanomarathon begin instroom het.
Die gewilde tweedaagse byeenkoms, wat Vrydag en Saterdag, 10 en 11 Oktober plaasgevind het, het nie teleurgestel nie.
Groot skares het by die uitkykpunte saamgedrom om die deelnemers aan te moedig.
In die mansafdeling het Andy Birkett en Hamish Lovemore die 2025 Suid-Afrikaanse K2-titel ingepalm ná ’n spannende tweestryd met Greg Louw en Matthew Fenn.
Dit was 'n naelbytoorwinning wat tot op die nippertjie nog enige kant toe kon gegaan het.
Die derdeplekwenners, Clint Cook en Jeremy Candy, was reeds Vrydag uit die prentjie nadat hulle by Keith’s Flyover Rapid omgeval het.
“Ons het tot in die doodsnikke geveg,” het Birkett ná afloop van die resies gesê. “By Marlow’s Causeway het Louw en Fenn ons ingehaal, maar ons het gelukkig weer kon wegbreek.”
Dit was Birkett se sewende Visrivier-oorwinning en Lovemore se eerste.
In die vroue-afdeling het Hilary Bruss en Bridgitte Hartley met oorweldigende selfvertroue gewen, ondanks twee uitvalle deur Hartley.
Die span het op dag 1 reeds met 12 minute voorgeloop en hul voorsprong met nóg sewe minute vergroot teen die eindstreep by Cradock.
Bruss beskryf die ervaring as “perfek, ten spyte van ’n paar onverwagte duike.”
Eindresultate:
Mans: 1. Birkett/Lovemore (4:42:52); 2. Louw/Fenn (4:43:54); 3. Cook/Candy (4:47:26).
Vroue: 1. Bruss/Hartley (5:43:25); 2. Solms/Craig (6:03:17); 3. Isaac/van Deventer (6:12:08)
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’