MOLTENO NUUS - Die senior burgers van die Siësta Aftreeoord in Molteno het so ’n heerlike oggendtee op Onverwacht in die Moltenodistrik geniet dat die plaaslike Vroue Landbouvereniging (VLV) besluit het om ook hul Kersfees-afsluitingsfunksie daar hou.
Reeds dae vooraf het die groep jolige seniors begin gereed kry vir die rit na Onverwacht, die appelplaas van Denise Bartlett en Lindy Bartlett-Haggart.
Die spesiale dag is ’n jaarlikse instelling en daar word lank voor die tyd reeds beplan. Hierdie jaar was die groot datum 10 Oktober, en die vereiste was dat elkeen met ’n vrolike hoed opdaag.
Dit was ook bloeiseltyd, en die omgewing was besonder sag op die oog met pienk en wit bloeisels wat oral bot en ’n heerlike geur versprei, terwyl die bye besig-besig rondzoem.
“Daar is heerlik gekuier onder die bome in die tuin, en hoewel dit winderig was, het dit geensins die geesdrif gedemp nie,” vertel Bartlett-Haggart.
Lourentia de Kock was die gasspreekster, en het vanuit ’n Christelik gefundeerde oogpunt die belang van die vasstelling van persoonlike grense bespreek.
Sy het beklemtoon dat elkeen verantwoordelik is vir sy eie grense, en dat respek aan jouself die heel belangrikste is.
Sy het ook die belangrikheid van gedeelde liefde en sorg in die hantering van traumatiese situasies uitgelig.
“Hierdie genooide spreker het haar voorwaar uitstekend van haar taak gekwyt,” sê Bartlett-Haggart, “en dit was vir my ma, Denise, ’n wonderlike geleentheid om tussen mense van haar eie ouderdom te wees.”
Nickie Kruger, een van die manne wat ook die heerlike kuiertee bygewoon het, sê dit was insiggewend en hulle het dit baie geniet.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’