RUBRIEK - Iets wat ek baie geniet om te doen, is om vintage voertuigskoue by te woon. Daar is iets omtrent die rykheid en 'glamour' daarvan wat my terug laat verlang na 'n era waar mense dinge waardeer het.
Elke voertuig wat op skou is, is tot op die kleinste skroef gepoleer, ure se liefde en geduld is in die restourasie van die 'old dame' ingesit - party van die versamelaars reis honderde kilometers om 'n part na te jaag; daar is geen part te duur of te ver nie.
Ek staan nou die dag by die vulstasie, besig om my voertuig te vul. Langs my trek 'n ou Mercedes Benz in, blink soos 'n spieël. Ek let op dat die embleem, wat so kenmerkend pronk op die enjinkap van die voertuig, afgebreek is. Ek byt op my lip, maar skraap tog die moed bymekaar om met die eienaar te gesels toe hy uitklim.
Hy wys my die binnekant van die kar, alles mooi oorgedoen - in osbloedkleurige leer met 'n donkerbruin stiksel. Ek komplimenteer hom en voeg by dat dit mooi by die swart van die voertuig pas. Dit is toe dat hy swaar sug en met hartseer verklaar dat die embleem onlangs afgebreek is; seker om te verkoop, voeg hy by.
Ons paaie skei en ek dink by myself dat dit darem hartseer is; dit is duidelik dat hierdie voertuig vir hom kosbaar is, maar 'n "meal ticket" vir 'n ander een was. Wanneer het dinge so waardeloos geword?
Dit laat my ook dink aan die alewige probleem waarmee ons owerhede daagliks 'n stryd voer - kabeldiefstal. Hierdie oortreding vier hoogty, en word daar feitlik weekliks daaroor berig. Familie van my bly op 'n plaas naby Mosselbaai, geen telefoonlyn van 'n dag oud nie.
Die koperkabels is sowat 12 jaar terug gesteel, nie een maal nie, maar 'n paar keer. Weereens iemand se "meal ticket".
Wat het gebeur dat dinge so deurmekaar geraak het? Kinders en volwassenes word ontvoer vir 'n losprys. Iemand word vermoor vir 'n lewenspolis. Dit wat jy kosbaar ag, is die volgende ou se 'meal ticket'.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’