KAROO NUUS - Alhoewel ons voorsate van duisende jare gelede se doen en late in onsekerheid gehul is, sou die moderne mens nie verkeerd wees deur te beweer dat die oermens waarskynlik ook geteister was deur siekte-toestande nie.
Om sodanige teistering te verminder of om dit op te hef, sou hulle die plante rondom hulle benut het, bv. die blare gekou, die bas gestroop en ge-eet, sappe gedrink het, ens.
Aan die begin sou hierdie pogings om verligting te kry in hoofsaak onsuksesvol gewees het.
Dis redelik om te aanvaar dat die “plantmedisyne” vir ‘n minderheid siektes verligting gebring het en dat die positiewe boodskappe van geslag tot geslag oorgedra is (want niemand hou van pyn en ‘n jeukende vel nie).
‘n Eeu of meer gelede het die mens slim geraak en onder andere begin om die medisynes wetenskaplik te ondersoek en sommiges van die suksesvolle stowwe te sintetiseer en te bemark om verligting vir gesondheidsprobleme te vind.
Die medisyne-bedryf het buitengewoon gegroei en daar word jaarliks biljoene dollars bestee omdat die mens mos gesond wil voel.
Soos die oermens ontdek het, is ons steeds intens bewus dat die “chemiese inhoud” van plante in hulle wortels, stamme, blare en blomme ‘n skatkis van wonderlike en geheimsinnige chemiese stowwe bewaar - ons ken al baie, maar daar bly steeds baie oor om ontdek te word.
Een van die mees onlangse ontdekkings behels die sogenaamde anti-oksidante wat die verouderingsproses vertraag. Die moderne mens wil nie alleen gesond voel nie, hy wil jonger lyk en lank lewe. Dit is dus nie vreemd dat bome, wat tot 1000 jaar oud kan raak, terselfdertyd ‘n goeie hoeveelheid anti-oksidante bevat nie.
Die leidende rol wat die natuur vertolk om die mens se lewenskwaliteit te verbeter, word treffend weerspieël deur die feit dat meer as 60% van die medisyne wat bemark en verkoop word, eers in die natuur ontdek is.
Alhoewel ‘n groot deel van die wêreld se bevolking toenemend hulle vertroue in natuurprodukte plaas om ‘n magdom menslike behoeftes aan te spreek, moet hierdie sogenaamde “oumens rate” met omsigtigheid hanteer word.
In Graaff-Reinet is ons bewus van die gebruik van die garingboom (Agave americana) om alkohol te produseer. Die bedryf is egter gestaak en daar was seker maar ‘n gevoel om die Agave-episode te begrawe.
Gelukkig was daar produsente wat met die verbouing van Agave voortgaan. Hierdie poging word sterk ondersteun deur ‘n dame van Graaff-Reinet wat geglo het dat Agave meer as ‘n alkohol-bron is en sy het geweet dat daar in dié plant nog vele chemiese stowwe is wat smeek om ontdek te word - stowwe wat waarskynlik tot voordeel van die mens met sy onuitputlike vraag na gesondheids-ondersteunende middels kan wees.
Een chemiese stof wat reeds gevind is, is ‘n makroverbinding wat oor spesiale eienskappe beskik om water soos ‘n spons op te neem en dit beskikbaar te stel as die plant dit benodig.
Die teenwoordigheid van die sponsagtige chemiese stof, stel dus die Agave-plant in staat om besonder goed onder moeilik omstandighede te oorleef. Dit sal mos wonderlik in ons droë land wees om chemiese stowwe te hê wat saam met plante in die grond ingewerk kan word om water op te gaar (op groot skaal) en dit weer beskikbaar te stel as dit droog raak.
Die Agave-plant word egter nie alleen teen droogte beskerm nie, maar bevat ook anti-bakteriese verbindings as beskerming. Niemand sal dus verras wees as sodanige chemiese verbindings ook bakterieë op/in die mens sal kan beveg nie.
Die betrokke dame se vertroue in die potensiaal van die Agave-plant om toepaslike gesondheidsstowwe te huisves, het reeds tot ‘n produk gelei wat suksesvol as Agavesol bemark word.
Volgens haar is die terugvoer van kopers van dié produk baie positief en word daar in die vooruitsig gestel dat haar Agave-reeks wonderlike, ondersteunende en toepaslike huisvriende kan wees.
Die Agave-gogga het selfs die belangstelling van studente geprikkel en is hulle tans besig om ‘n projek te ontwikkel om chemiese stowwe uit die plant te ekstraheer. Hierdie projek-span het sopas Graaff-Reinet besoek om eerstehands kennis oor die Agave-plant in te samel.
Artikel: Dr Kobus Steenkamp