KAROO NUUS - "Uiteindelik het die dag aangebreek waarop renosters voorkeur geniet, veral in die bewaringsgemeenskappe rondom Grahamstad," het dr. William Fowlds met 'n sug van verligting gereageer. Dit nadat die hooggeregshof in Makhanda, op Dinsdag 24 November, die aansoek om appèl van die veroordeelde renosterstropers, Jabulani, Forget en Sibusiso Ndlovu afgekeur het.
In 'n ingewikkelde saak wat oor 'n driejaartermyn verhoor is, het die Ndlovu's verskeie klagtes teen hulle gehad, wat verband hou met tien gevalle van renosterstropery, oor die driejaartermyn, in bewaringsgebiede in die Albany-, Jansenville-, Graaff Reinet- en Cradock-distrikte.
Hulle is deur regter Jeremy Pickering skuldig bevind op al vyf aanklagtes verbonde aan elke insident.
Die driemanskap het die renosters gepyl en hul horings verwyder terwyl hul nie kon beweeg nie, maar steeds by hul volle bewussyn was.
Veearts Fowlds, wat spesialiseer in wild, het bykans alle tonele, waar die Ndlovu's gestroop het, besoek en in sy verklaring melding gemaak van die uitsonderlike wreedheid wat teenoor die diere gepleeg is, en hoe hul horings uit hul kopbene gebreek is, om die grootste hoeveelheid van die horing te kon verwyder.
Senior Advokaat Terry Price het die Ndlovu's verteenwoordig tydens die verhoor, en het ook hul appèlsake hanteer.
Senior staatsaanklaer, Buks Coetzee, het vir die staat verskyn tydens die verhoor en appèlaansoeke. Regter Pickering het die aanvanklike aansoek afgekeur. Na 'n petisie deur die appèlhof, is 'n verdere aansoek om appèl toegestaan. Regters wat teenwoordig was tydens die appèlverhoor was David Viljoen, Judith Roberson en Rob Griffiths.
In totaal sal die beskuldigdes meer as 400 jaar gevangenisstraf uitdien, maar aangesien dit gelyktydig uitgedien sal word, sal die saamgestelde vonnisse 25 jaar gevangenisstraf per beskuldigde behels.
Ikhala-dierekliniek se veeartsenyverpleegster, Candice Momberg, wat baie van die tonele saam met Fowlds besoek het, is opgewonde oor die vonnisse. "Ek is trots op die Oos-Kaap se wetstoepassing- en regstelsels."
Three poachers from the Ndlovu rhino poaching gang were each sentenced to 25 years in prison by the Eastern Cape High Court in Makhanda on 24 November. Jabulani, Forget and Sibusiso Ndlovu had several cases made against them, related to ten cases of rhino poaching over three years, in conservation areas in the Albany, Jansenville, Graaff Reinet and Cradock districts. They were convicted by Judge Jeremy Pickering on all five charges related to each incident.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'