KAROO NUUS - Voor ons afspraak het ek oom Klaas Niemandt vertel van 'n vergadering wat ek onlangs bygewoon het. Dit was 'n ernstige vergadering vol harde woorde. Mense het daarná opgetree soos hulle andersins dalk nie sou optree nie.
Ek kom kry oom Klaas staan met 'n hamer en 'n beitel; besig om versigtig te tik-tik teen 'n blok sandsteenklip uit die Karoo-aarde.
Sommer met die groetslag sê hy: "Jaaa, vanmelewe het ek ook al die onding gedoen van vergadering bywoon. Vergaderings is nie vir almal nie; allermins vir my.
"Want praat en hoor is mos maar twee heel verskillende goed. Jy weet, vir 'n potlood is daar 'n uitveër, maar wat is daar vir jou tong, hmm?
"Geuiterde woorde dra 'n boodskap UIT, maar dit dra ook 'n boodskap IN. En dis die ding van woorde: dis 'n gelukkige oomblik wanneer die boodskap uit en die boodskap in, dieselfde boodskap is.
Meer gereeld as níe fokus die vormer van die woord só op die uitkry van die boodskap, dat hy nie ag slaan op watse boodskap sy gevormde woorde by die aanhoorder indra nie.
Wat gesê word, is nie noodwendig wat gehoor word nie.
"Skryf is goed. Veral met 'n potlood. Want jy kan uitvee en maar weer probeer. Maar praat? Praat is 'n seer gevaarlike ding. Onthou: twee ore; een tong."
Oom Klaas talm 'n oomblik – sy beitel behoorlik vasgevat, hamer in die regterhand, vind sy oë myne; boeiend. Met draaiende oë beduie hy na die fokuspunt: die sandsteenklip met die beitel wat rakelings daarteen rus.
Dan, plotseling, maar seker en sekuur, tref die hamer sy beitel. Die blok sandsteen wat hy so versigtig staan en afwerk het, split opslag oop en kantel om in twee stukke.
"Aitsa, nie Klaas Niemandt nie, maar NP van Wyk Louw! Die Beiteltjie het mos lank terug een warm twaalfuur-middag kant en klaar na Van Wyk Louw toe gekom terwyl hy gestap het. Ek, Klaas Niemandt, kap maar net klip, maar daai man, daai man het die effek van woorde verstaan."
Oom Klaas sit sy hamer en beitel neer en in 'n laer stem dra hy peinsend voor:
"'Dan met twee goue afgronde
Val die planeet aan twee
En oor die kranse, kokend,
Verdwyn die vlak groen see.'
"Totdat 'n ene Wilma Stockenström sy Die Beiteltjie kom antwoord het met 'Kraak die aardbol langs 'n naat'. Reken sý toe:
'... Gom nou
Die helftes stewig vas en, siedaar,
Die nuwe aarde, lig, leef, lief.'"
"Maar wat sy nie gesê het nie en Van Wyk Louw reeds geweet het: die kraak wat die beitel veroorsaak het, sal bly sit, maak nie saak hoe jy gom nie. Woorde gevorm en geuiter, hou aan kloof tot in die donker heelal in.
"'n Vuishou stop waar hy geslaan word; die tong se houe begin waar sy woorde val..."
Met twee ore en een mond vol tong, bly ek tjoepstil, lig my hoed, knik my kop en kom aan die anderkant van oom Klaas se werfhek.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'