GEORGE NEWS - Tien mense is dood en agt beseer in ‘n ongeluk wat omstreeks 10:00 vanoggend, 31 Desember, op die R61 digby Ngcobo plaasgevind het.
Volgens Unathi Binqose, mediawoordvoerder van die Oos-Kaapse Departement van Vervoer, het dit by Beyele tussen Ngcobo en Cofimvaba gebeur. Drie voertuie, ‘n Toyota-minibustaxi, Toyota Avanza en GWM Steed-bakkie, was betrokke.
Volgens Binqose was die Toyota-minibustaxi met 16 insittendes op pad vanaf Ngcobo-dorp na omliggende landelike gebiede. Die Toyota Avanza, met vier insittendes, was na bewering op pad vanaf die Cofimvaba-rigting. Die twee voertuie het reg van voor gebots.
“Al vier insittendes van die Toyota Avanza en vyf insittendes van die Toyota-minibustaxi is deur nooddienste op die toneel dood verklaar. Een bykomende slagoffer het met aankoms by die All Saints Provinsiale Hospitaal in Ngcobo aan sy beserings beswyk.”
Agt beseerde insittendes van die Toyota-minibustaxi is ook na die All Saints Provinsiale Hospitaal vervoer vir verdere mediese behandeling.
Binqose het gesê GWM Steed-bakkie is beskadig maar geen beserings is onder die insittendes aangemeld nie. Die oorsaak van die ongeluk is nog onbekend in hierdie stadium. 'n Saak van strafbare manslag sal by die Ngcobo-polisie geopen word vir verdere ondersoek.
“Daar word weereens ‘n beroep gedoen op alle padgebruikers regoor die provinsie om enige rit met groot omsigtigheid te onderneem, en altyd voorsorg te tref dat insittendes so veilig as moontlik vervoer word,” het Binqose gesê.
Tien insittendes van die minibustaxi is dood. Foto verskaf
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’