OOS-KAAPSE NUUS - Padsterftes op die Oos-Kaapse paaie oor die naweek van 27 en 28 Desember het 21 lewens geëis en verskeie ander is beseer - sommige kritiek - in 'n reeks verwoestende ongelukke regoor die provinsie.
Die gemeenskap van Middelburg in die Oos-Kaap is in hartseer gedompel nadat ‘n gesin van dié dorp Sondag 28 Desember twee kinders in ‘n ernstige ongeluk naby Uniondale verloor het toe hul Toyota Fortuner net na 12:30 gerol het.
Die bestuurder is per helikopter na George Mediclinic vervoer, en vier ander beseerdes is ook in dié hospitaal se intensiewesorgeenheid opgeneem.
Unathi Binqose, mediawoordvoerder van die Oos-Kaapse Departement van Vervoer, het in sy oorsig oor padsterftes op die provinsie se paaie meegedeel dat die dodelikste ongeluk op Saterdag 27 Desember omstreeks 14:00 op die N10 tussen Cradock en Tarkastad plaasgevind het waar 13 mense, insluitend 'n onbekende aantal kinders, gesterf het in 'n kop-aan-kop botsing tussen 'n bakkie en 'n Audi-sedan.
Die polisie het bevestig dat 10 insittendes van die bakkie, wat 20 mense vervoer het, en twee insittendes van die Audi op die toneel gesterf het. Nog 'n bakkie-passasier is later dood terwyl hy na die hospitaal vervoer is. Die meeste slagoffers is tydens die impak uit die agterkant van die bakkie geslinger, ten spyte daarvan dat die voertuig 'n kap agterop gehad het.
Vier kinders is in Cradock-hospitaal behandel en verkeer tans in ‘n stabiele toestand, en drie kinders met veelvuldige beserings is in 'n kritieke toestand in die Livingstone-hospitaal, Gqeberha, opgeneem. Die bakkie was na bewering onderweg van Kaapstad na die Transkei.
Binqose het gesê onder ander noodlottige ongelukke wat aangemeld is, was die ongeluk waarin 'n 11-jarige meisie dood is nadat 'n minibus op die R61 omgeslaan het. Een persoon is ook dood in 'n kop-aan-kop botsing op die R61 tussen Aberdeen en Graaff-Reinet.
Vyf mense is op slag dood toe 'n voertuig op die N2 naby Seven Fountains, naby Makhanda, omgeslaan het, en 'n 22-jarige motoris het verdrink nadat sy motor in die Boesmansrivier naby Kenton-on-Sea beland het.
Die polisie ondersoek sake van strafbare manslag in alle voorvalle, terwyl provinsiale verkeersowerhede die situasie as kommerwekkend beskryf en motoriste aangespoor word om verkeerswette te gehoorsaam en verantwoordelik te bestuur.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’