EASTERN CAPE NEWS - Die Oos-Kaapse Premier, Lubabalo Oscar Mabuyane, het 2026 afgeskop by die Oliver en Adelaide Tambo Streekshospitaal in Mbizana waar hy nuwejaarsbabas verwelkom en geskenke en lekkernye aan die nuwe ouers oorhandig het.
Hy was vergesel van sy vrou, Siyasanga, en die burgemeester van die Winnie Madikizela Mandela Plaaslike Munisipaliteit, Daniswa Mafumbatha.
Mabuyane het ouers verwelkom en gelukgewens met die veilige aankoms van hul klein bondeltjies vreugde. Hy het gesê dis ‘n gekoesterde tradisie wat nuwe lewe vier en ondersteuning van gesinne versterk. Hy het later die dag die Taylor Bequest Provinsiale Hospitaal in Matatiele ook besoek.
Die waarnemende LUR vir Gesondheid en Oos-Kaapse LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling, Bukiwe Fanta, het op hul beurt die Frere-hospitaal in Oos-Londen besoek om die aankoms van nuwejaarsbabas wat in die vroeë oggendure gebore is, te vier. Die LUR het gesondheidswerkers geprys vir hul volgehoue toewyding om sorg aan ma’s en hul babas gedurende die feestyd te bied en volgehoue ondersteuning vir ma’s beklemtoon.
Die LUR vir Landbou, Nonceba Kontsiwe, was by die Frontier Provinsiale Hospitaal in Komani om nuwe babas te verwelkom. Kontsiwe was vergesel van verteenwoordiging vanuit die Oos-Kaapse Departement van Gesondheid tydens die hofliksheidbesoek. Kontsiwe het gesê vier babas is op Nuwejaarsdag in die Chris Hani-distrik gebore in die eerste ses uur van die nuwe jaar.
Teen 17:30 op 1 Januarie was daar reeds altesaam 116 babas in die Oos-Kaap gebore, waaronder 68 dogtertjies en 48 seuntjies. Kontsiwe het gesondheidsorgpersoneel bedank veral diegene wat aan diens was oor die Nuwejaarstydperk. Geskenkpakkies is ook aan ma’s met pasgebore babas uitgedeel.
Tydens ‘n gesprek met Newzroom Afrika, het Dr Rolene Wagner, departementshoof van die Oos-Kaapse Departement van Gesondheid, gesê 363 nuwe internskap- en gemeenskapswerk-dokters asook 382 gesondheidswerkers met opleiding in verskeie mediese velde sal eersdaags gesondheidsdienste in die Oos-Kaap versterk om druk op die huidige personeel te verlig. Sy het gesê tienerswangerskappe bly ‘n bron van kommer en het jong ma’s aangemoedig om gebruik te maak van kliniekdienste wat in elke distrik van die Oos-Kaap beskikbaar is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’