KAROO NUUS - Huis Silwerjare in KwaNojoli (voorheen Somerset-Oos) het hierdie jaar weer ’n spesiale dag van Vadersdag gemaak.
“By Huis Silwerjare gaan ons groot, veral met sulke spesiale dae,” beklemtoon Riette Lombard, die bestuurder.
Die Vadersdagvieringe het Vrydagmiddag reeds begin toe Gill Kollege se leerders handgemaakte Vadersdagkaartjies aan al die manne uitgedeel het.
Lombard het haar dank uitgespreek teenoor Judy Bester en die kombuispersoneel, wat ekstra moeite met die ontbyt en die hoofmaal gedoen het, Wilmerie Botes, wat pragtig versierde kolwyntjies gemaak het, en Jewel van Aardt, bloemiste en eienaar van Pienk Petunia, wie se blomskeppings die viering opgevrolik het.
“Ons het almal uitgesien na die etes, want dit is elke jaar ’n groot treffer en smaaksensasie,” vertel ’n anonieme inwoner.
Een ding is gewis: elke pa in Huis Silwerjare het op dié dag spesiaal gevoel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’