JANSENVILLE NUUS - Toerisme en die Inwonersforum in Jansenville het onlangs kragte saamgesnoer om hul funksies te kombineer.
“Daar is net nooit genoeg mense wat kan help nie, en ons het besluit om die wa deur die drif te trek,” sê Leoné Mulder, voorsitter van Jansenville-toerisme.
Die besluit is op 26 Mei tydens ’n vergadering geneem waar Zanthia Cronjé, voorsitter van die Inwonersforum ook teenwoordig was. Beide dié voorsitters dien nou op die bestuur van beide die groepe.
Danksy die nuwe reëling is dinge besig om te gebeur. Die vroue van Jansenville staan nie terug wanneer harde werk ter sprake kom nie.
“By die vergadering is besluit dat daar met die betrokke persone in Jansenville genetwerk sal word. Daar is vervolgens met kapt. Glenda Franks van die polisie, asook met die visuele polisiëringsnetwerk, bande gesmee ten opsigte van misdaadbekamping. Daar is ook kontak gemaak met die munisipaliteit, waaroor ons baie opgewonde is,” vertel Mulder.
By die vergadering is ook planne in samewerking met die departement van maatskaplike dienste van stapel gestuur waarby straatkinders sal baat, en ’n geleentheid het reeds op 9 Junie plaasgevind waar hierdie kinders in die stadsaal ontvang is, soos in Graaff-Reinet Advertiser berig is.
Gesprekke met die munisipaliteit oor bywette word in die vooruitsig gestel, spesifiek rondom die aansteek van vure in publieke en beboude areas, probleme rondom straatverkopers, en urinering in publieke areas.
Op 24 Junie is ’n vergadering met Vispol gehou rondom koperdiefstal, waar die DA-raadslid vir Jansenville, Mandy Deyzel, teenwoordig was.
Tydens dié vergadering het Vispol gesê dat polisie se grootste uitdaging tans voertuie is; slegs een voertuig is beskikbaar vir die uniformtak en twee vir die speurtak.
Daar is ook beperkte mannekrag; slegs agt offisiere per skof sou aan diens wees tydens die optogte wat vir 30 Junie beplan was.
Navrae vanuit die dorp het daarop gedui dat inwoners besorg is oor die toestand van die begraafplaas, en die twee vroue het met Thanduxolo Boyana, die munisipaliteit se toesighouer vir gemeenskapsdienste onderhandel.
“Die publiek van Jansenville het bygedra sodat twee manspersone vir twee dae gehuur kan word om die begraafplaas skoon te maak. ’n Plaaslike inwoner het haar tuinier bewillig, en die tuinier van Huis Welverdiend sal ook by die skoonmaakproses inskakel.”
Boyana het onderneem om die munisipaliteit te versoek om alle vullis na stortingsterreine te verwyder, en ’n skenking van 20 liter onkruiddoder is deur JJ Bester gemaak om al drie die begraafplase te bespuit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’