OOS-KAAP NUUS - Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI Stasie 21) het vier bemanningslede van ‘n katamaran-seiljagvaartuig op Donderdag, Nuwejaarsdag by Seal Point, Kaap St. Francis, in gevaarlike weersomstandighede na veiligheid gebring.
Craig Lambinon, mediawoordvoerder van die NSRI, het gesê inligting is ontvang van Louwrens Bezuidenhout, NSRI St. Francisbaai se adjunkstasiebevelvoerder, dat daar Donderdagmiddag ‘n noodoproep van die katamaran ontvang is nadat die vaartuig gestrand het. Dit was besig om op te breek terwyl daar twee mans en twee vroue aan boord was.
Die NSRI St Francisbaai-dienspersoneel is geaktiveer en het die NSRI-reddingsvaartuig, Spirit of St. Francis III, te water gelaat. Gardmed-ambulansdienste het gereageer op Seal Point en Transnet Nasionale Haweowerheid in Kaap St. Francis se hawekontrole is gewaarsku.
'n See- en kuslynsoektog is in digte mis en 1.5m seedeinings en ligte winde begin, maar weens die swak sig kon geen tekens van die gestrande vaartuig aanvanklik gevind word nie.
Op daardie stadium het twee meisies van 13 en 19 jaar van Gqeberha op rotse aan wal gekom wat bevestig het dat hulle die katamaran verlaat het en dat die twee mans aan boord vermis is.
Tydens 'n voortgesette soektog is hulle ongeveer 100m van die kus van Seal Point af in die water gevind. Een was vasgemaak aan 'n reddingsboei. Albei mans, ‘n 46-jarige van Gqeberha, en 76-jarige van Port Alfred, is veilig aan boord van die reddingsvaartuig gebring.
Die 19-jarige vrou en 76-jarige man is in die hospitaal opgeneem vir mediese sorg. Daar word verwag dat albei ten volle sal herstel.
Die mans was vir ten minste 2 ure in die water voordat hulle gered is.
Telkom Maritieme Radiodienste het 'n navigasiewaarskuwing uitgesaai vir alle skepe buite die Seal Point vuurtoring, Kaap St. Francis, waar dryfgoed, puin en wrakstukke van die katamaran moontlik nog ronddryf. Die NSRI het die plaaslike seeman, Deon van Jaarsveld, bedank wat vrywillig sy privaat vissersboot, Caesar III, vergesel van die NSRI-bemanning, aangebied het om te help om puin, dryfgoed en wrakstukke te herwin.
Daar word verwag dat wrakstukke nog vir 'n geruime tyd op die see sal ronddryf of aan wal spoel, veral in die lig van die volmaan-springgety wat op 3 Januarie 'n hoogtepunt bereik en alle vaartuie word gewaarsku om op die uitkyk te wees daarvoor.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’