OOS-KAAP NUUS - Altesaam 41 jong mans het in die afgelope inisiasieseisoen in die Oos-Kaap gesterf nadat hulle besny is, en 41 volwassenes, insluitend ouers en skoolhoofde, is in hegtenis geneem vir versuim om die korrekte vooraf prosedures en nasorg toe te pas.
Volgens wet mag seuns bo 16 insiasieskole bywoon, maar die Minister van Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, het aan die Citizen gesê in sommige gevalle is seuns van so jonk as 13 jaar na inisiasieskole gestuur.
“Inisiasieskole moet ten minste drie maande voor aanvang geregistreer wees. Die gebruik van onsteriele instrumente is verbode. Ontvoering of gedwonge inisiasie is 'n kriminele oortreding,” het Hlabisa gesê.
Toestemming van ‘n ouer of wettige voog is verpligtend.
In die Oos-Kaap is die term ‘bos toe’ algemeen bekend as die noemnaam vir ‘n inisiasiekool. Bykans elke dorp in die provinsie het ‘n terrein waar daar regdeur die Kersvakansie talle tuisgemaakte hutte opgerig word vir seuns wat besny is as deel van die oorgangsritueel van seunskap na manlikheid wat by hierdie skole plaasvind.
Die ritueel word gekenmerk deur 'n proses van afsondering, kulturele opvoeding en dikwels besnydenis. Die skole is van groot belang vir baie gemeenskappe vir die vestiging van identiteit, waardes, dissipline en sosiale verantwoordelikheid.
Ouers spandeer ook dikwels groot bedrae geld om hierdie geleentheid in hul seuns se lewens so maklik as moontlik te maak, en om die gepaardgaande feesvieringe te finansier.
As gevolg van ernstige gesondheidsrisiko's en sterftes wat verband hou met onwettige of swak bestuurde skole, word die praktyk in Suid-Afrika gereguleer deur die Tradisionele Inisiasiewet, 2021. 'n Vooraf mediese ondersoek op seuns wat die proses ondergaan, is verpligtend en die besnydenis moet deur 'n goedgekeurde tradisionele chirurg uitgevoer word.
Dehidrasie, en 'n gebrek aan mediese nasorg is hoofredes vir dood in onwettige skole.
Gemeenskappe word versoek om onwettige inisiasieskole by provinsiale owerhede aan te meld om die veiligheid van inisiasies te verseker.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’