GRAAFF-rEINET NUUS - Vier verdagtes is in die omgewing van Wolwefonteint in hegtenis geneem nadat hulle glo ‘n taxi gehuur het om gesteelde skape te vervoer.
Volgens adjudant-offisier Majola Nkohli, Oos-Kaapse woordvoerder van die polisie, het 'n speurder van die Kariega Veediefstal- en Bedreigde Spesies-eenheid die vier in hegtenis geneem na 'n intensiewe ondersoek.
Nkohli het gesê die saak het op Woensdag 24 Desember begin nadat 'n verdagte taxi opgemerk is terwyl die verdagtes skape op 'n plaas in Glenconner, Wolwefontein, gelaai het. Die plaaseienaar was nie op die plaas teenwoordig nie en is deur die buurman gekontak, wat later 'n klag by die polisie gaan lê het.
Die speurder het daarin geslaag om die voertuig via die R75 na Nqweba op te spoor en die verdagtes se adresse is bekom.
"Adjudant-offisier Johan Jonck, die ondersoekbeampte, het meer as 40 agtereenvolgende ure gewerk, insluitend Kersdag, en daarin geslaag om die vier mans, tussen 21 en 47 jaar oud, op Saterdagoggend, 27 Desember, aan te keer.
Die polisie het vier van die sewe gesteelde skape, saam met twee skaapkoppe en 'n karkas, teruggevind, wat aan die eienaar terugbesorg is," het Nkohli gesê.
Die verdagtes sal na verwagting op Maandag 29 Desember in die Kariega-landdroshof verskyn op aanklagte ingevolge die Wet op Veediefstal 57 van 1959.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’