CRADOCK NUUS - Vir Nicoline Plaatjies (37) van Cradock (Nxuba) het Nuwejaarsdag heel anders verloop as wat sy beplan het, toe sy onverwags geboorte geskenk het nog voordat ’n ambulans kon opdaag.
Plaatjies vertel sy kuier graag tydens feesdae in die dorp, tussen mense. “By die huis is dit net ek en my seun van 17 en my dogter van 8. Hulle het hul eie vriende, en dan stap ek maar dorp toe om geselskap te soek,” sê sy. Op Nuwejaarsdag het sy by vriende en vriendinne aangesluit vir wat ’n ontspanne middagkuier sou wees.
Terwyl hulle gesellig verkeer het, het Plaatjies egter besef iets is besig om te gebeur. “Ek het geweet my baba se geboorte is nie meer ver weg nie, maar ek het dit nie so skielik verwag nie,” vertel sy. Sy het een van die mans wat saam met hulle was, gevra om haar na die hospitaal te vergesel, terwyl haar suster, Daureen Avontuur, intussen ’n ambulans ontbied het.
Volgens boodskappe wat op die plaaslike Veiligheidsgroep se WhatsApp-groep versprei is, was dit duidelik dat’n ambulans dringend nodig was. Avontuur, wat die boodskappe uitgestuur het, was duidelik erg benoud.
“Ons het nog gestap, maar toe ons by die Rooihek-skrootwerf verbygaan, toe voel ek: hy is hier,” vertel Plaatjies. Met raad wat Avontuur intussen op die WhatsApp-groep ontvang het, is daar vinnig ’n lap gekry om die pasgebore baba warm toe te draai.
Die ambulans het eers ’n rukkie later opgedaag, kort ná die baba se geboorte. Plaatjies het die nag in die provinsiale hospitaal in Cradock deurgebring, waar sy op 2 Januarie met behulp van haar suster opgespoor is om haar storie te deel.
’n Trotse Plaatjies en haar seuntjie, Pailasana, wat 1,8 kg met geboorte geweeg het, is gereed om 2026 volstoom met dieselfde spoed aan te pak as waarmee hulle die nuwe jaar begin het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’