RUBRIEK - Na 'n in duie storting word ek laat verlede jaar die trotse eienaar van 'n aantal titaniumplate en -skroewe waaraan ek met moeite, durf en deursettingsvermoeë gewoond raak.
Die arm van staal sukkel om te skarnier, en na urelange oefening skiet daai titaniumgewrig weer pligsgetrou terug in sy staalposisie.
Daar is nêrens 'n ghriesgaatjie, waar ek die styfgetrekte skarnier kan olie of ghries nie. Soms is dese staalskarnier so styf na een dag se oefenprogram, wat ten duurste deur flinke, vinnige, flukse fisiolyfies voorgeskryf is, dat ek die ongerieflike nag daarna wonder hoekom mens soveel betaal vir werk wat jyself moet gaan doen?
Fisioterapeute en arbeidsterapeute gee boeke vol oefeninge en ek kry nie tyd om te gaan stap nie, want ek spandeer drie uur per dag om 'appels-te-pluk', 'hand-om-te-blaai', 'vingers-fyn-te-vat', 'die-grassnyer-aan-die -gang-te-pluk' en vele meer.
Maar die terapeute raak moedeloos. Ek sien dit in hul oë en ek hoor dit in hul leë woorde.
Die staalelmboog veroorsaak dat my armvel styftrek soos dit swel. Kort voor lank jeuk daardie arm van staal asof iets of iemand dit betaal. En op die bopunt van daardie arm van staal sit ek mettertyd met 'n skouer wat haar so ewe vies-vies vries.
Ek vra my soekenjin oor die verskynsel en die bekende dokter daar sê dis as gevolg van 'n besering wat 'n-tekort-aan-oefening tot gevolg het, en ek gee myself oor aan 'n langverlore lagbui. Kan jy nou meer, ek oefen myself besete, tot styfwôrens toe maar moeilike, mevrou-skouer trek stywe bolip en vries?
Aan die onderent van dié duur arm van staal sit daar natuurlik ook my hand, sou jy aanvaar. Maar skielik, binne 'n bestek van sekondes, na ek uit narkose ontwaak het, het ek besef dié voorkeur regsklou van my weet nie meer herwaarts of derwaarts nie.
Van die hand tot die mond val die pap, die pen, die potlood, die pleister, en helaas ook die toiletpapier op die grond. Die koffie, sleutel, en skoen volg. Die vingerafdruk wil die druk nie en die vingers wil nie tik nie. Tydens 'n kongres moet 'n onbekende tafelgenoot – 'n welgeklede sakeman in sy aandpak – my help om die vleisie op my bord te sny.
My kleinkinders bel en vra nie uit na my welstand of jongste nuus nie. "Hoe voel Ouma se handjie?" is hul eerste woorde. Want dit was daardie hand(jie) wat saam met hulle op die klavier kon tokkel, prente teken, popklere maak, kolwyntjies bak, plantjies plant, blomme pluk, grimering aansit en feetjies vou.
Maar Ouma se hand het stil-stil gesterf en skeefgetrek.
Hulle kom sit vir Ouma grimering aan, een oog groen oogskadu, die ander oog blou, sodat Ouma vir hulle mooi lyk. Hulle knip en vyl my vingernaels. Hul kom kruip onder my linkerblad in vir 'n drukkie want die arm van staal, die gevriesde mevrou-skouer en die gestorwe handjie deel nie drukkies uit nie, want dit het dom geword. En Ouma treur.
Soos oumas kan. Soos oumas mag, want sommige oumas verloor goed wat hul vroeër gehad het.
Na ses maande pak ek 'n oornagtas en gaan besoek 'n neuroloog en hy toets my impulse met 'n dure sjokmasjien, en helaas, daai sjokmasjien wys geen impulse word gelei van skouer na pols – dit haak iewers vas.
Die skrif is aan die muur. En self kon ek nie daar skryf nie, want my hotklou moet nou 'n handtekening saamflans wat die bank se outomaat glad nie wil aanvaar nie. Maar dis goed genoeg vir 'n hospitaal se teatervorms!
En so verloor ek in twee en 'n halwe uur se teatertyd, elke skroef wat ek gehad het, op dieselde dag wat sneeu in die Karoo die koms van die winter van 2024 aankondig. Ek weet ek is skroefloos, ek voel dit in my armpype, en ek bid. Ek bid dat my geknelde, gekwelde senuwee weer die impulse na my vingerpunte sal vind.
Want ek het hulle nog nodig, dierbare Here.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’