ALIWAL-NOORD NUUS - Die vroue van die VLV in Lady Grey is 'n doenige klomp met 'n baie besige jaar agter die rug.
Daarom is hul afsluiting sommer vroegtydig gehou, sê Antoinette van Pletzen van dié tak.
Die tak se afsluiting is op Woensdag 22 Oktober by die gesellige Pantry Deli in Aliwal-Noord gehou.
“Behalwe die heerlike, gesonde bord vingerkos, was daar ook 'n bakkie met 'n stewige melktertjie en 'n sjokoladekolwyntjie met mousse versier - om huis toe te neem, of ná ete te geniet,” vertel van Pletzen.
Die uitruil van geskenke was 'n uitdaging, maar aan planne het dit in Lady Grey nog nooit tekort geskiet nie.
Elkeen moes 'n versierde bottel saambring met 'n geskenk binne-in wat toe op 'n kreatiewe manier uitgeruil is.
“Lede moes hul bottel 'n naam gee en dit op 'n papiertjie skryf. Daarna kon elkeen 'n papiertjie trek en die skenker moes haar bottel oorhandig.
Daar was interessante inhoude wat gewissel het van koffie, sjokolade en naaldwerk tot pamperlanggoed vir naels, en lekker vrouebederfies.”
Die nuwe bestuur vir 2026 is aangekondig, en daar is met groot dank afskeid geneem van 2025 se bestuur.
Uittredende voorsitter Monique Duke het vir die dag die voortou geneem, maar die nuwe voorsitter, Henna Botha, het die nuwe saamroepers se kentekens aangesteek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’