ABERDEEN NUUS - Die Aberdeen VLV dames het die afsluiting van hul bedrywige jaar op 5 November gehou. Volgens die voorsitter, Lea van der Vyver, het hulle die oggend afgeskop met die oorhandiging van 'n skenking aan Aberdeen Hospitaal.
Die linne en kussings is met groot dank deur matrone Sharon Hart en haar personeel ontvang.
Formaliteite
Hierna het lede by die Aloe Lodge gastehuis in die dorp byeengekom, waar het Lize de Jager geopen het met 'n gepaste voorlesing uit Fil. 3:13.
“Los dit wat agter jou is, en strek jou uit na wat voor is.” Sy het dames aangemoedig om die jaar wat verby is, in oënskou te neem, te leer uit foute en te bou op suksesse.
Elna van Niekerk het haar haar 35 jaar-diensknopie ontvang.
Van der Vyver, wat al sedert Oktober as president van die ACVV Sirkel Middelland waarneem, het na 11 jaar as takvoorsitter die leisels oorgegee aan Annalie Lategan.
Sy deel dat spanwerk die sukses van die VLV Aberdeentak verseker.
Impakstudie op voëls
Die gasspreker, Etienne Albertyn het 'n boeiende praatjie aangebied oor sy maaskappy, Bird’s Eye View, se impakstudie op voëllewe vir die beplande windplaas buite Aberdeen doen.
Om onafhanklikheid te verseker, het hulle geen kontak met die ontwikkelaars nie en rapporteer aan die maatskappy wat aangestel is om al die verskillende impakstudies te doen.
Hulle werk streng volgens spesifieke riglyne en alle inligting bly tydens die studie konfidensieel.
Voëlspesies word in verskillende kategorieë ingedeel, met die fokus op bedreigde en prioriteitspesies.
In die Aberdeen-area tel die breëkoparend, witkruisarend, sekretarisvoël, bloukraanvoël en die pouspesies as prioriteitspesies.
Datainsameling
Vir datainsameling word die hele gebied in verskillende uitkykpunte verdeel, elk met 'n 2km radius rondom.
'n Tweemanspan beman elke uitkykpunt vir 48 uur in die jaar en teken op wat hulle waarneem, insluitend bewegings en gedrag van die prioriteitspesies. Indien daar aktiewe neste en broeiareas vir die arende gevind word, word 'n 6km-radius buffer-area rondom soneer waar geen ontwikkeling mag plaasvind nie.
Waarneming word ook gedoen wanneer hulle deur die area stap, en alle voëlspesies word aangeteken om populasiedigtheid te bepaal.
Daar word ook gefokus op spesifieke omgewings wat voëls lok, soos damme en waterpunte, en alle voëls word op 'n spesifieke toep aangedui.
Daar word ook baie stadig deur die hele gebied gery en aangedui watter prioriteitspesies waargeneem is.
Verskillende habitatareas binne die gebied, bv. rivierlope, word ook deurgestap om alles aan te teken.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’