GRAAFF-REINET NUUS - Graaff-Reinet se eie Hanna Makoba, van New Horizon Sewing Co-operative in Graaff-Reinet, is gekies om die koöperatief en die Oos-Kaap by die G20 Sosiale Spitsberaad in Sandton te verteenwoordig.
Die Nasionale Ontwikkelingsagentskap (NDA) het haar kostes gedra en dit vir haar moontlik gemaak het om die koöperatief se klere op 'n internasionale verhoog uit te stal.
Die 2025 G20 Johannesburg-beraad was die 20ste vergadering van die Groep van Twintig, 'n byeenkoms van staatshoofde en regeringshoofde wat op 22 tot 23 November by die Johannesburg Expo Centre, Johannesburg gehou is.
Dit was die eerste G20-beraad wat op die Afrika-kontinent plaasgevind het.
Makoba vertel van die streng sekuriteitsmaatreëls en hoe akkreditasie nagegaan moes word.
“Daar was 65 konferensielokale en daar is gebruik gemaak van gholfkarretjies om tussen hulle te beweeg.
Talle politieke leiers, waaronder die Minister van Sport en Ontspanning, Gayton MacKenzie, Minister van Kleinsakeontwikkeling, Stella Ndabeni-Abrahams, Adjunkminister van Vroue, Jeug, Kinders en Mense met Gestremdhede, Mmapaseka Steve Letsike, en die Minister in die Kantoor van die President, Khumbudzo Ntshavheni, het my stalletjie besoek,” sê sy.
“Wat ’n wonderlike geleentheid was hierdie blootstelling aan diegene wat ons land, en talle ander lande, regeer, nie vir ons nie.
Elkeen knoop ’n geselsie aan en toon belangstelling, en behalwe daarvoor is ons stalletjie goed ondersteun.
Ons het talle verkope gehad en vele bestellings teruggebring na Graaff-Reinet.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’