OOS-KAAP NUUS - Geen besoeker aan die Oos-Kaapse platteland kan getuig van perfekte paaie nie.
Sommige grondpadroetes is in ’n haglike toestand as gevolg van verwaarlosing, en talle padwerke vorder glad nie.
Hieroor het die Graaff-Reinet Advertiser meermale oor die afgelope jaar berig.
Op 2 Julie het Kabelo Mogatosie, lid van die Oos-Kaapse wetgewer en skadu-LUR vir vervoer, gesê die begrotingsbesnoeiings op paaie is ’n menseregtekrisis, veral omdat die instandhoudingsagterstand in die Oos-Kaap net vergroot.
“Die besluit om die provinsiale padonderhoudstoelae met R31 miljoen in die 2025-2026 finansiële jaar te sny, en met R93 miljoen oor die mediumtermyn-uitgaweraamwerk, sal die herstel van Oos-Kaapse paaie verder belemmer," het Mogatosie gesê.
"Verlede maand se vloede in en om Mthatha het sleutelroetes vernietig en hele gemeenskappe afgesny.
Ingenieurs skat die herstelkoste op R935 miljoen. Die departement van vervoer kon R102 miljoen herprioritiseer, maar daar is steeds 'n tekort van R832 miljoen."
Hy glo ook dat, totdat bykomende fondse verseker is, paaie onveilig sal bly en dat inwoners se lewensonderhoud daaronder sal ly.
Mediese nooddienstespanne kan nie pasiënte betyds bereik nie, skoolkinders word gedwing om lang afstande te loop, besighede verloor elke dag inkomste, en passasiers kan nie vrylik beweeg nie.
Groente- en eierboere kan ook nie hul produkte vars by markte besorg nie.
Om hierdie redes het die verswakkende paaie reeds 'n menseregteskending geword.
“Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het die omvang van die krisis bevestig. In hul onlangse verslag is bevind dat slegs 9% van die Oos-Kaapse paaie met ’n beskermende oppervlak bedek is, ver onder die nasionale gemiddelde 25%.
Teen huidige befondsingsvlakke word geen groot opgraderings verwag tot 2044 nie, en hierdie jongste besnoeiing skuif daardie horison selfs verder weg,” het Mogatosie verduidelik.
Vanuit die verafgeleë landelike gemeenskappe berig inwoners dat paaie dikwels totaal onbegaanbaar raak.
Hierdie mense bly gestrand en duisende mense word só toegang tot onderwys, gesondheidsorg en ekonomiese geleenthede geweier.
Die befondsingsbesnoeiings kom namate befondsing oor die mediumtermyn herprioritiseer is van die provinsiale padonderhoudstoelaag na die Nasionale Departement van Vervoer se S'hamba Sonke-program.
Hierdie program is daarop gemik om die fondse vir tegniese ondersteuningsdienste aan provinsies wat padonderhoudsprojekte uitvoer, aan te vul.
Volgens Mogatosie verminder die besnoeiing van fondse wat bedoel is om onderhoud te monitor, bloot die hoeveelheid werk wat gedoen kan word en maak die moniteringsoefening betekenisloos.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’