CRADOCK NUUS - Wilna de Klerk is in Cradock wyd en syd bekend as 'die koerantvrou'. Sy is reeds vir 44 jaar 'n verslaggewer en Graaf-Reinet Advertiser het hierdie Vrouemaand met haar gaan gesels. Niks het in die tydperk in dié Oos-Kaapse dorp gebeur wat sy nie pligsgetrou neergepen het nie. Haar toewyding en professionalisme was nog altyd 'n rigtingwyser in die lewe van 'n plattelandse korrespondent.
Wilna (88) vertel sy het geen formele skryfopleiding nie, "maar toe die vrou wat vir jare Oosterlig se korrespondent was wou aftree en sy my gevra het of ek sal belangstel, het ek sommer dadelik 'ja' gesê, en later eers daaroor gaan dink."
Wilna vertel dat sy haar eerste tjek van R96,40 op 22 November 1980 van Oosterlig ontvang het, en ‘n week later het daar ook een van R22,75 van die Burger arriveer. Sy was in die wolke, want dit was vir haar heerlik en interessant om beriggewing te doen.
"Met my koerantwerk het ek talle mense ontmoet en plekke gesien wat nooit andersins oor my pad sou kom nie. Deur my loopbaan het ek ook opspraakwekkende hofsake bygewoon wat my oë oopgemaak het. Ek het voortdurend ontwikkel en geleer. Die opskorting van nuusblaaie en gedrukte media was vir my 'n swaar slag."
Wilna is op Cradock gebore en was reeds op 'n jong ouderdom 'n weduwee, en haar liefde vir nuus het haar goed te staan gekom. "Hoe warmer hoe beter," sê sy met 'n knipoog, "want dit het natuurlik die geld ingebring."
Wilna het deur die jare ook graag berig oor ou geboue en ander geskiedkundige dinge.
Soos enige joernalis en korrespondent kan getuig, was haar grootste begeerte om ‘n voorbladartikel te kry en dit het deur die jare ‘n hele paar keer gebeur. Sy het ook ‘n paar kortverhale geskryf, maar daarvoor was daar nie altyd tyd nie, want die koerant het haar voltyds besig gehou.
"Mettertyd leer die mense van die dorp mos wie is die koerantvrou, en dan kry jy lekker baie oproepe en wenke vir nuus, Maar o wee, daar is soveel ander wat ook natuurlik 'hulle' storie wil inhê, en glo my, verkieslik op die voorblad!"
Haar mees opspraakwekkende berig ooit, en daar was baie, was sekerlik die een van die pastoor wat sou sterf. Die pastoor het op ‘n Maandag by sy huis aangekom, in die bed geklim en gesê hy het ‘n visioen gehad dat hy gaan sterf en dat hy Saterdag begrawe moet word. So letterlik was die storie opgeneem dat, terwyl hy vir die dood in die bed wag, sy familie ‘n graf laat grawe het, die stadsaal en spyseniers gereël het en busse by die dosyne van Vrydag af in die dorp aangekom het. Die storie het so wyd geloop dat ‘n joernalis van Duitsland ook gebel het vir ‘n foto en die nuutste inligting. "Ek dink die pastoor lewe dalk nog," vertel sy.
"My ergste en heel moeilikste onderhoud was na ‘n skoolbusongeluk, toe ek met die ma moes gesels, en later so hard saamgehuil het dat die polisievrou my notaboekie gevat het en vir my notas gemaak het."
Wilna het vyf kinders, 11 kleinkinders en 16 agterkleinkinders. "Hulle is die lig in my lewe en ek is trots op wat elkeen van hulle reeds bereik het."
Wilna het 'n besondere liefde vir lees en verslind graag speurverhale. Sy brei ook graag en het "skielik ‘n gier om legkaarte te bou".
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’