KAROO NUUS - Die artikel in verlede week se Advertiser oor die voorgestelde naamsveranderinge wat deur die Oos-Kaapse departement van sport, ontspanning, kuns en kultuur bekendgemaak is, het hewige reaksie by Graaff-Reinetters ontketen - net so min soos wat DBNLM en raadslede daarvan geweet het, net so was inwoners ook verstom daaroor - onder andere die Hufkie-familie.
Ebben Hufkie, seun van Fred Hufkie, het die Advertiser gekontak om hulle argwaan met die publiek te deel omdat sy pa se naam een van die voorgestelde nuwe name vir Graaff-Reinet is.
"In reaksie op die artikel, Karoo verstom oor nuwe name, in Graaff-Reinet Advertiser van 7 September, wens die Hufkie-familie die volgende verklaring uit te reik.
'Ons, die Hufkie-familie, wens hiermee te versoek dat die naam van Fred Hufkie onmiddellik van die lys van moontlike toekomstige name vir Graaff-Reinet verwyder word. Ons wens dit onomwonde te stel dat ons nie sal toelaat dat die naam van Fred Hufkie by goedkoop politiekery en politieke winsbejag betrek word nie."
In 'n gesprek met Ebben sê hy dat dit nie noodwendig beteken dat hy teen die voorgestelde naamsveranderinge gekant is nie, maar dat die familie nie sy pa se naam deel wil maak daarvan nie. Die familie het ook amptelik, per e-pos op 7 September by die Oos-Kaapse departement kapsie gemaak, maar teen druktyd nog geen terugvoering ontvang nie.
Fred Hufkie
Gedurende sy volwasse lewe het Hufkie hom gewy aan die ontwikkeling van onderwys, nie-rassige sport en teologie. In 2001 is hy bekroon met die Freedom of Graaff-Reinet-toekenning vir sy bydrae. Vir sy bydrae om die onregverdigheid van rasgesegregeerde onderwys uit te daag, en vir sy sorg en besorgdheid oor gemeenskapsaktiviste en hul gesinne, het die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit postuum aan ds. Frederick Emmanuel Hufkie die Raad se Prestige-toekenning oorhandig. In Graaff-Reinet het DBNLM die Kroonvale-krieketovaalbaan herdoop na die Fred Hufkie-krieketovaal. Hufkie was vir 26 jaar skoolhoof van Spandau Hoërskool in Graaff-Reinet. Hy het in 1951 skoolhoof geword, 'n jaar nadat die skool geopen het, en het in 1977 bedank. Onder sy leiding het die skool op akademiese, sport- en kulturele vlak uitgeblink, en sy toewyding het verseker dat Spandau Hoërskool 'n leier in die onderwys geword het.
Genomineerde dorpe se name se Oorsprong
Hier aan die voetenent van Spandauskop rondom die veilige hoef van die Sondagsrivier is Graaff-Reinet in 1786 gevestig as die vierde distrik in Suid-Afrika en vernoem na die Hollandse goewerneur van die dag, Jacob van de Graaff en sy vrou, Cornelia Reynet. Graaff-Reinet staan as 'n getuienis van geskiedenis, kultuur, en diverse erfenis en resoneer in die harte van mense regoor die wêreld.
Meer as sy naam het Graaff-Reinet betekenis as een van Suid-Afrika se oudste en kultureel rykste dorpe. Sy strate is versier met goedbewaarde historiese argitektuur wat 'n tasbare skakel met sy verlede bied. Hierdie argitektoniese erfenis dien as 'n getuienis van die dorp se ryk geskiedenis en die individue wat dit gevorm het. Ingebed in die dorre Karoo-streek word Graaff-Reinet dikwels met liefde verwys as die, Juweel van die Karoo, na aanleiding van die pragtige omgewing en historiese belangrikheid van 'n dorp wat sy plek vol staan vir eeue reeds.
Nietemin was die stigting van die dorp nie bloot 'n produk van estetika of toeval nie. Verskeie oortuigende faktore het bygedra tot die stigting van Graaff-Reinet. Soos verkenners uit die Kaap beweeg het om in die binneland te vestig het dit die Kaapse Goewerment genoodsaak om 'n drosdy te vestig wat kon help met wetstoepassing in die wilde verte van die omgewing.
Vandag bly Graaff-Reinet besoekers bekoor met sy mengsel van geskiedenis, pragtige natuurskoon, en kulturele erfenis, en dit bly 'n gekoesterde juweel in Suid-Afrika se kulturele weefsel wat liedjieskrywers, kunstenaars en gewone mense vir eeue reeds inspireer omrede 'n deel van elkeen wat met dié dorp te doen kry vir ewig hier agterbly.
Die dorp Nieu-Bethesda is gestig in 1878 deur wyle ds. Andrew Murray van Graaff-Reinet. Die naam het ontstaan uit die Bybelse Bethesda wat beteken, "plek van vloeiende water" omdat daar volop water was, selfs in die hartjie van die Karoo.
Die vallei waar die dorpie lê was voorheen 'n porsie van die plaas, Uitkyk. Die kerk het die grond van die Pienaar-familie teen 'n bedrag van 4 000 pond gekoop.
Vandag is die dorp nie net wêreldbekend vir Helen Martins se Uilhuis, en later, Athol Fugard se Road to Mecca nie - daar is galerye, restaurante, gastehuise en historiese dinge om te sien en doen. Die dorpie is 'n toerisme-bestemming wat jaar na jaar bly groei.
Adendorp was destyds 'n plaas en is vernoem na die voormalige plaaseienaar, N J Adendorff. In 1858 het Adendorff sy grond in die Sondagsrivier-omgewing in kleinhoewes onderverdeel en verkoop. Met verloop van tyd het die klein dorpie 8 km suid van Graaff-Reinet ontstaan wat in 1878 munisipale status gekry het.
Daar is ongeveer sewe strate in Adendorp en al hierdie strate is vernoem na belangrike plaaslike figure in die geskiedenis van Graaff-Reinet.
- Die hoofstraat, Berrangéweg, is vernoem na die noemenswaardige Anthony Berrangé, gebore in 1806, wat as landdros van Graaff-Reinet gedien het. Hy is afkomstig van 'n liberale Kaapse familie en het as 'Beskermer van Slawe' gedien toe slawe in 1833 geëmansipeer is.
- Ziervogelstraat is vernoem na Jeremias Frederick Ziervogel, lid van die Kaap. Hy het 'n wetsontwerp vir die stigting van 'n kollege in Graaff-Reinet voorgelê en in 1860 het hy op die eerste raad van die kollege gedien.
- Graaff-Reinet se verbintenis met die Joodse geskiedenis word in Mosenthalstraat vereer. Die Mosenthal-broers, Adolph en Joseph, van Hesse-Cassel in Duitsland, het in ongeveer 1842 na Suid-Afrika gekom en winkels in Graaff-Reinet oopgemaak. Hulle het ook die sybokhaarbedryf in Suid-Afrika gevestig nadat hulle die eerste angorabokke uit Turkye ingevoer het.
- Leebstraat herdenk Johann Ludwig Leeb, die Kaapse landmeter vanaf 1814 tot 1845, wat sedert 1826 tot sy sterfte in 1846 as distrikslandmeter in Graaff-Reinet gedien het. Sy seun, P G Leeb, was die Vrederegter in Richmond waar daar ook 'n Leebstraat is wat na hom vernoem is.
Teen die laat agtiende eeu het baie trekboere in die Camdeboo ingetrek en hierdie beweging het saamgeval met die stigting van Graaff-Reinet in 1786.
Die oorspronklike titelaktes vir die grond waarop Aberdeen geleë is, is onderteken deur die Britse goewerneur Lord Charles Somerset in 1817. Aberdeen is gestig op die plaas Brakkefontein wat in 1855 deur sy eienaar Jan Vorster aan die NG Kerk verkoop is.
Die nuwe nedersetting is Aberdeen genoem ter ere van die geboorteplek van dominee Andrew Murray (senior). Die Aberdeen NG Kerk is bekend vir sy effens skuins en tweede hoogste toring in Suid-Afrika en het sitplek vir tot 2 000 mense. Vandag voel die gemeenskap dat "Abza", soos plaaslikes daarna verwys, die plek is om te wees en gebruik almal hierdie gesegde met trots.
Meningspeiling
Die Advertiser het 'n meningspeiling op www.graaffreinetadvertiser.com geskep om vas te stel hoe die publiek daaroor voel. Besoek die blad en laat hoor jou stem.
Vorige artikel: Karoo verstom oor nuwe name
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’