Update
GRAAFF-REINET NUUS - Hoër Volkskool vier vanjaar hul 100ste bestaansjaar. Die eeufeesvieringe vind vanaf 4 tot 7 Augustus plaas.
Een van die oudleerlinge wat die eeufees-vierings van die Hoër Volkskool bywoon, is prof. Christo Viljoen, die eerste hoofseun van die skool en lid van die eerste matriekklas wat afgestudeer het nadat die Hoër en Laer Volkskole in 1954 geskei het.
Viljoen was later professor in elektroniese ingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch, dekaan ingenieurswese, en viserektor (Bedryf) van die US. Hy is ook algemeen bekend as die stigter van Tegnopark op Stellenbosch, en voorsitter van die SAUK-raad van 1989-1993.
Viljoen vertel dat hy dieselfde jaar, toe die eerste leerlingraad ingestel, as hoofseun verkies is. Naom Kock (néé Slabbert) was die eerste hoofmeisie.
"My pa, HC (Hent) Viljoen, is in 1926 aangestel as landbou- en wetenskap-onderwyser van Volkskool, en is getroud met Anna Pienaar, wat destyds 'n student aan die Graaff-Reinet Opleidingskollege was. Onder sy leerlinge was hy algemeen bekend as Smallie. Uit die gesin is vyf kinders (drie seuns, twee dogters) gebore, almal oudleerlinge van die Hoër Volkskool. Dit beteken dat die Viljoen-familie vir 96 van die honderd jaar van die Volkskool se bestaan met die skool saamkom. Die jongste van die kinders, Annelize (later Kleu), was in 1973 die hoofdogter."
Viljoen sê hy is ook trots daarop om te kan sê dat hy die eerste drie skoolhoofde van die Hoër Volkskool persoonlik geken het: dr G van W Eybers (wat hy later in die sestigerjare in Pretoria ontmoet het), adv. UJ Cronje (sy Latyn-onderwyser tot 1952) en mnr. G Smit. Hy vertel dat hy die afbrand van die skoolgebou op 6 Mei 1949 as 12-jarige aanskou het.
"Dit was 'n stil Sondagaand toe die geloei van die sirene van die dorp se enigste brandweerwa gehoor kon word. Ons huis was in Somersetstraat 114, twee straatblokke vanaf die skool. Toe ons na buite gaan om te sien wat aangaan, sien ons dat die skoolgebou in ligte laaie staan, met vlamme wat selfs Spandaukop verlig het. Ons het nader gehardloop en saam met 'n saamgedromde skare voor die skoolgebou, gekyk hoe die hele voorste en oostelike syvleuel afbrand.
Af en toe hoor jy die knal van 'n gassilinder wat in my vader se klaskamer ontplof. Die enigste brandweerwa kon weinig doen om die vlamme te blus. Vir weke en later jare lank het ons in sale en kamers oor die hele dorp skoolgegaan: die DF de Klerk-gedenksaal, die twee NG kerke se kerksale, selfs woonhuise is inderhaas as klaskamers ingerig.
Later sou ses asbes-opslaankamers langs die huidige Laerskool se rugbyveld opgerig word. Ons kon aan die einde van die eerste kwartaal in 1954 ons lessenaars op vragmotors laai om ons intrek in die nuutgeboude skoolgebou in Plasketstraat te neem. Nie net kon ons in ons matriekjaar die interskole teen Union High 12 - 0 wen nie, maar kon ekself die eerste drie vir die eerste span gedruk het. Ons klas kon ook spog met 100% slaagsyfer."
Ontstaan van skool
Volkskool was een van die eerste skole in Kaapland met Afrikaans as sy enigste voertaal. Volkskool beklee 'n besondere plek in die geskiedenis van Kaapland en Suid-Afrika se onderwys en deur die jare het hy steeds as 'n baanbreker sy plek op die terrein van die Afrikaanse kultuur konsekwent gehandhaaf.
Volkskool stam uit die 'Midland Seminary' vir dogters, en die 'Boy's College' Aan die einde van 1919 word dr. G van W. Eybers as hoof van die Boy's College aangestel en het Nederlands met Afrikaans vervang. In 1921 word ds. JF Naudé bevestig as leraar van die NG kerk en hy dring daarop aan dat die Taalordonnansie in die 'Midland Seminary' tot sy reg moet kom, want hy het twee skoolgaande dogters gehad. Na 'n besoek van die destydse SGO, dr. WJ Viljoen en sy hoofinspekteur, is besluit dat die ontevredenes 'n skool sal kry waar Engels die voertaal sou wees en dat Afrikaanssprekende kinders in één skool sou saamkom onder hoofskap van dr. G von W. Eybers om in hul moedertaal hul onderrig te ontvang.
Die noodsaaklikheid van 'n Afrikaanse skool het hom kort na die stigting in 1922, duidelik geblyk toe Afrikanerseuns en -dogters van heinde en ver gekom het om onderrig te ontvang - in so 'n mate dat die skool spoedig vergroot moes word.
Christo Viljoen
Vorige artikel: Volkskool vier 100 jaar
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'