GRAAFF-REINET NUUS - Hoër Volkskool vier vanjaar hul 100ste bestaansjaar.
Die eeufeesvieringe vind vanaf 4 tot 7 Augustus plaas.
Indien jy interessante foto’s van die skool of lekker stories oor die skool het, deel dit gerus met Liezl van Niekerk by 084 825 0432 of liezl@groupeditors.co.za
Ontstaan van die skool
Dié skool was een van die eerste skole in Kaapland met Afrikaans as sy enigste voertaal. Volkskool beklee ‘n besondere plek in die geskiedenis van Kaapland en Suid-Afrika se onderwys en deur die jare het hy steeds as ‘n baanbreker sy plek op die terrein van die Afrikaanse kultuur konsekwent gehandhaaf.
Volkskool stam uit die "Midland Seminary” vir dogters, en die “Boy’s College”.
Aan die einde van 1919 word dr. G. von W. Eybers as hoof van die “Boy’s College” aangestel en toe hy Nederlands met Afrikaans vervang, het die poppe begin dans. In 1921 word ds. J. F. Naudé bevestig as leraar van die NG kerk en hy dring daarop aan dat die Taalordonnansie in die “Midland Seminary” tot sy reg moet kom, want hy het twee skoolgaande dogters gehad.
Na ‘n besoek van die destydse SGO, dr. WJ Viljoen en sy hoofinspekteur, is besluit dat die ontevredenes ‘n skool sal kry waar Engels die voertaal sou wees en dat Afrikaanssprekende kinders in één skool sou saamkom onder hoofskap van dr. G von W. Eybers om in hul moedertaal hul onderrig te ontvang.
Die noodsaaklikheid van ‘n Afrikaanse skool het hom kort na die stigting in 1922, duidelik geblyk toe Afrikanerseuns en -dogters van heinde en verre gekom het om onderrig te ontvang – in so ‘n mate dat die skool spoedig vergroot moes word.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'