HOFMEYR NUUS - Die Hattinghgesin van Louisseplaas naby Hofmeyr het onlangs opslae gemaak toe sewe van die gesin van agt aan die South Africa Western Mounted Games Association se nasionale uitdunne sou gaan deelneem.
Die uitdunne het vanaf 6 tot 10 Oktober by die Afridome in die Vredefort Koepel by Parys, Vrystaat, plaasgevind.
Ongelukkig moes die13-jarige Liam, wat met sy reun Flash aan die kinders o. 13-uitdunne in vlak 2 sou deelneem, onttrek.
Hy het reeds vir die nasionale uitdunne gekwalifiseer.
En die driejarige Taliyah sal eers volgende jaar deelneem.
Uitslae
Op die ou end het ses van die Hattinghs hul beste gegee in die uitdunne.
Zion (7), op Checkers, het aan die kinders o. 13 vlak 0 deelgeneem, en alhoewel sy perd nukkerig was, het Zion kalm gebly en uitsonderlike goeie tye gery.
Meleah (9), op Donna, het in die kinders o. 13 vlak 0 deelgeneem. Donna het agt weke voor die nasionale uitdunne haar een oog verloor.
Christiaan (13) het ook deelgeneem aan kinders van 13 jaar in vlak 2, en met twee perde gekwalifiseer; hy wen met Oros vlak 2, en met Sunlight vaar hy so goed dat hy na vlak 3 bevorder is, waar hy tweede plek behaal het.
Amorey (15) het in die junior klas, 18 jaar en jonger deelgeneem, met twee selfgeleerde perde.
Ramkat was ook te goed vir vlak 2 en behaal tweede plek in vlak 3. Met Dasha behaal sy goeie tye in vlak 3.
Ma Marguerite het op haar perd Coke in senior vlak 2 deelgeneem en behaal tweede plek in speedball.
Louis, pa van dié span ruiters, het met drie perde gekwalifiseer.
Suiker
Een van hierdie drie was die geliefde muil, Suiker.
“Suiker is ’n vierjarige plaasperd op Groenfontein, hoog in die Bamboesberge,” vertel Marguerite.
“Louis het besluit om haar in te skryf. Suiker is die vul van ’n geregistreerde Arabiermerrie en ’n Spaanse donkiehings, en is mak met ’n sagte geaardheid.”
Suiker het op vlak 2 gekompeteer en het gekwalisfiseer vir nasionaal.
“Suiker was ’n onmiddelike sensasie by dié kompetisie, tussen 696 inskrywings.
Almal wou kom vryf en fotos neem en gesels,” vertel Louis.
“Sy is Suiker omdat sy ‘loop soos stroop’. Muile is bekend vir hulle hardkoppigheid, maar ook vir hulle krag, stamina en intelligensie.”
Hy sê Suiker steel steeds harte op sosiale media onder Louisseplaas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’