NASIONALE NUUS - Die nasionale departement van indiensneming en arbeid, en die vakbond Solidariteit, het 'n skikking oor die wetgewing rakende billike indiensneming in Suid-Afrika gesluit.
Die uitkoms word deur Solidariteit as 'n groot deurbraak vir billikheid beskryf, wat die land se rassebeleid ingrypend sal verander.
Van die belangrikste punte in die ooreenkoms sluit in dat daar geen diensbeëindiging van enige aard as gevolg van rasprogramme mag wees nie, en dat daar geen absolute plafonne vir indiensneming of bevordering vir enige groep mag wees nie.
In ‘n plasing op die aanlynplatform Maroela Media deur die voorsitter van Solidariteit, Flip Buys, maak hy die stelling dat, ingevolge hierdie skikking, die gebruik of misbruik van ras as enigste maatstaf vir aanstellings wel afgeskaf word.
“Dit bepaal verder dat niemand op grond van ras afgedank mag word nie. Die wetgewing moet tydelik en buigsaam wees, met ras wat net as een van vele ander faktore gebruik mag word. Dit sal help keer dat die raswette nie net ‘n rastelling word nie.”
Buys benadruk dat die skikking nie die eindpunt van Solidariteit se stryd teen rassewette is nie, maar noem dit die eerste mypaal na ‘n normale werksmag waar mense op grond van hul karakter en bekwaamheid, in plaas van ras, hanteer word.
Proses van bemiddeling
Die ooreenkoms tussen die staat en die vakbond het ontstaan uit 'n proses van bemiddeling wat begin het nadat Solidariteit 'n klag by die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) ingedien het teen die regering se onbuigsame implementering van regstellende aksie in Suid-Afrika.
Solidariteit het kritiek uitgespreek oor die regering se optrede rakende diensbillikheid en het verskeie kere die wette wat deur die departement en nasionale regering ingestel is, wetlik betwis, veral die toenemend beperkende voorwaardes wat aan besighede gestel word.
Die mees onlangse wysigings aan die Wet op Gelyke Indiensneming (EEA) is in April deur president Cyril Ramaphosa in wetgewing onderskryf.
Hierdie wysigings verleen aan die minister van indiensneming die gesag om spesifieke rasseteikens vir 18 sektore regoor die land daar te stel, wat vier verskillende vaardigheidsvlakke insluit, insluitend topbestuur.
Volgens die nuwe wetgewing het aangewese werkgewers – met verwysing na alle besighede wat meer as 50 individue in diens het – 'n tydraamwerk van vyf jaar om te verseker dat hul arbeidsmag die rasse- en geslagsdemografie op óf provinsiale óf nasionale vlak weerspieël.
Solidariteit het 'n dispuut oor die Wet na die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) verwys en die IAO het voorgestel dat die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) toesig moet hou oor die oplossing van die dispuut.
Deur arbitrasie en konstruktiewe dialoog het die twee partye tot 'n ooreenkoms oor die wetgewing gekom en dit daarna onderteken.
Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) se uitkoms in 'n neutedop
Agtergrond
- Solidariteit het ingevolge Konvensie 111 'n klag by die IAO teen die SA-regering gelê. Die klag was oor die rigiede gebruik van ras.
- Die klag is as ontvanklik verklaar. Die eerste stap was bemiddeling. Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het die bemiddeling hanteer.
- Bemiddeling het oor 'n tydperk van nege maande plaasgevind. Solidariteit het gevra dat, ingevolge die konvensie, SA se rassebeleid buigsaam moet wees. Die konvensie maak nie voorsiening vir 'n totale verbod op rasprogramme nie; dit vereis wel buigsaamheid en billikheid met die implementering daarvan.
- SA se absolute rassebenadering is verder belig met nuwe regulasies ingevolge waarvan die minister streng raskwotas vir sektore voorskryf. Dit het tot verhoogde spanning in die bemiddelingsproses gelei.
- Die uitkoms was 'n groot deurbraak vir billikheid en verander die rassebeleid in SA ingrypend. Dit is nog nie die einde van rasprogramme nie, maar dit het 'n reuse-invloed op die implementering daarvan. Vir Solidariteit is dit 'n strategiese oorwinning, maar nie die einde van die stryd nie.
Die IAO-uitkoms
Die belangrikste punte van buigsaamheid in die ooreenkoms tussen Solidariteit en die SA-regering as uitkoms van die IAO-proses is die volgende:
1. Daar mag geen diensbeëindiging van enige aard as gevolg van rasprogramme wees nie.
2. Rasprogramme moet tydelik wees en spesifiek op regstelling gefokus wees.
3. Rasprogramme moet buigsaam wees, en ras is slegs een van vele faktore wat in ag geneem kan word met voorbereiding, implementering en voldoening.
4. Daar mag geen absolute plafonne vir indiensneming of bevordering vir enige groep wees nie.
5. Die volgende moet in ag geneem word met voorbereiding, toepassing en voldoening:
5.1 die inherente vereistes van 'n pos;
5.2 die poel van toepaslik gekwalifiseerde persone;
5.3 kwalifikasies, vaardighede en ondervinding;
5.4 natuurlike personeelomset; en
5.5 werwings- en bevorderingstendense in die werkplek.
6. Geregverdigde gronde vir nie-voldoening kan die volgende insluit:
6.1 werwings- en bevorderingsgeleenthede;
6.2 onvoldoende persone uit die aangewese groep met die regte opleiding, vaardighede en ondervinding;
6.3 enige KVBA-toekenning, hofbevel, oordrag van besigheid, samesmelting en oornames wat 'n rol kan speel; en
6.4 die sakeonderneming se ekonomiese omstandighede.
Gevolge
1. Hierdie punte van buigsaamheid gaan as regulasies in die Staatskoerant gepubliseer word en 'n bevel van die hof gemaak word.
2. Werkgewers sal verplig wees om dit toe te pas.
3. Dit is dus die einde van ras as die enigste maatstaf met indiensneming of bevordering.
4. Dit is nie die einde van alle rasprogramme nie.
5. Dit is 'n ontknoping van die IAO-geskil oor buigsaamheid, maar die stryd tussen Solidariteit en die regering oor rasprogramme is nog nie verby nie.
Bronne: Werner Human, operasionele hoof van Solidariteit Beweging; businesstech.co.za; maroelamedia.co.za.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’